Local newsNewsNews

Die prettige Kerskoek se groot droogte

RUBRIEK. - Ons maak toe 'n plan ... Dit was nie noodwendig 'n goeie plan nie, maar dit was 'n prettige een.

RUBRIEK. – Een goeie Desember kuier ek weer by hartsmense op die plaas daar anderkant die blou berge.

Hier net na Versoeningsdag bring Ronel twee Kerskoeke by die huis aan wat sy êrens gekoop het.

Die koeke is pragtig versier. Veral die een is tog te fraai met sjokolade kersboompies en ‘n eetbare sneeuman. Die ander een was meer stemmig in rooi getooi.

Die meer stemmige vrugtekoek in rooi getooi.

Was ook nie lank nie, toe oorval die lus vir die kerskoek ons, en sny ons die prettige-sneeuman-koek.

Maar mens, so met die eerste stuk saam sien ons binne is ‘n groot droogte aan die gang.

Ek meen nou te sê ‘n vrugtekoek is mos bekend vir die vogtigheid verskaf deur maande se vooraf besprinkeling met die bruin voggies.

Nie daardie een nie. Ons besef ons sal ‘n plan moet maak. Net nou maar stik iemand aan vrugtekoek en die naaste groot hospitaal is ver.

Sterk drank sal jy nie maklik in daardie plaashuis kry nie, maar so is die plaas meer as net ‘n plaas plaas.

Daar is ook vakansie akkommodasie met ‘n restaurant en ‘n kroeg. Bestel ons toe bietjie van die bruin voggies daar van die kroeg se kant af.

Besprinkel kon ons nie die koeke besprinkel nie, want dis mos reeds versier.

Gelukkig maak ‘n boer ‘n plan en as ek en Ronel saam is, is die kanse goed dat dit ‘n uitsonderlike plan gaan wees.

Sy was mos hoeka op haar dag ‘n suster. Grawe sy ‘n inspuiting uit haar noodhulptas uit en trek hom vol.

Dit was ‘n prettige Kerskoek …

Ons lag so Ouma Bella kom kyk waarmee is ons besig. Ronel spuit albei daai vrugtekoeke op tientalle plekke in om die groot droogte aan die binnekant te breek.

Intussen het die res van die familie so stuk-stuk begin naderstaan om hul middagkoffie op die plaasstoep te geniet.

Ons sny en deel uit, maar seg nie ‘n woord oor die inspuit-operasie nie.

Presies wie eerste onraad vermoed het, kan ek nie nou onthou nie.

Die meeste se eerste happies was nog aan die droë kant, maar dit was nie lank nie toe byt hul almal in inspuitingskolle in.

Dit het omtrent ‘n gehoes en geproes afgegee, want waar die voggies ingespuit is, het dit hard geslaan.

Twee dae later het nog net die sneeuman van die eerste vrugtekoek oorgebly.

Elke keer as iemand ‘n stuk gevat het, het die op en aanmerkings oor ons inspuitingsplan van vooraf begin.

Groot gelag. Lekker geëet, maar nie ‘n aanbeveelbare plan om die droogte in ‘n klaar versierde vrugtekoek te breek nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button