Kersvader by die voordeur
Lekker as Kersvader self sommer by jou huis kom geskenke uitdeel. Lees meer...
VAALPARK. – As kind was daar darem niks lekkerder as om op die 24ste of 25ste Desember geskenke onder die boom te ontdek en oop te maak nie.
Partykeer het Kersvader kom inloer om die geskenke uit te deel, maar dit het nie veel gevat om jou oom, pa of oupa onder die baard te erken nie.

Verskeie kinders in die Vaaldriehoek het Kersfees ʼn groot verrassing gehad toe Kersvader en een van sy elwe uit die bloute by hul huise opgedaag het en geskenke uitgedeel het.
J.F van der Merwe en sy meisie, Danielle van Aswegen speel nou al die afgelope drie jaar hierdie rolle oor Kersfees.
J.F sê dit het vir hom begin voel asof die groot vakansiegees aan die taan was en asof van die lekker kultuur en tradisies rondom Kersfees afgeneem het.
“Dit was so anders toe ek ʼn kind was. Ek wou ʼn bietjie van daardie verbeeldingswêreld weer terugbring,” verduidelik hy.

Hy stuur die advertensie om ʼn Kersvader te huur vir ʼn halfuur al hier van November uit en hierdie jaar is hy behoorlik besig gehou.
“Ons het 16:00 op Oukersdag begin tot laataand en weer van vroeg Kersoggend af.”
Volgens J.F is die 1 tot 3-jariges nie baie gepla met Kersvader nie, hulle wil net hul geskenke hê, maar die kinders tot so 7-jaar was baie opgewonde om Kersvader en ʼn Elf in hul huise te ontvang.
By elke huis is daar geskenke uitgedeel en foto’s geneem. Waar nodig, het Kersvader sommer almal se geskenke uitgedeel.
Christell Maritz het laat weet haar kleinseun het by hulle in Vanderbjilpark gekuier oor Kersfees en hy was uit sy vel van opgewondenheid toe Kersvader skielik sy verskyning maak.
