Local newsNewsNews

“My lewe is te goed om te kla” – Leroi le Roux

Die Vaal se eenbeen-diskuskampioen se 2023 was uitdagend om die minste te sê. Maar, hy bly 'n positiewe rolmodel.

VANDERBIJLPARK. – Leroi le Roux se 2023 was besaai met hoogte- en laagtepunte. Hy het die jaar goed afgeskop toe hy vir die eerste maal aan die gestremde atletiek deelgeneem het.

Binne twee maande het hy vir SA’s gekwalifiseer en sy kop het na die wêreldkampioenskappe gestaan.

“Kyk net hoe maer was ek tweejaar gelede. Toe het hul nog gespook om my been te probeer red.” Foto verskaf,

“Ek het myself ongelooflik gedryf. Hopeloos te hard,” vertel Leroi. “Ek het geoefen totdat daar blase op my stompie was.” Sy been is verlede jaar onder die knie geamputeer nadat hy Spontane Kompartement-sindroom opgedoen het.

In Mei vanjaar is hy dokter toe vir ʼn jaarlikse ondersoek. Hier het hy slegte nuus ontvang.

Die Spontane Kompartement-sindroom het na sy gesonde been versprei. “Gelukkig is dit die keer vinnig gediagnoseer en kon hul met een operasie die been red.”

Leroi vroeër vanjaar in aksie in die diskussirkel. Foto: verskaf

Die herstelproses was nie maklik nie. Hy kon nie gewigstoot of, sy gunsteling, diskus oefen nie. “Dit was twee lang maande in ʼn rolstoel en op krukke,” erken hy.

Maar dan breek sy kenmerkende glimlag deur. “Die gevoel toe ek weer my prostese kon aantrek, staan en loop, was onbeskryflik. Ek het genoeg tyd gehad om te herstel en my kop skoon te kry.”

Leroi is positief van geaardheid en hy het besluit die terugslag gaan hom nie onderkry nie. Vandag beskou hy dit as ʼn bedekte seën.

“Ek wou te vinnig, te veel doen en bereik. Nou het ek nuwe, groter doelwitte. Waar ek in die begin van die jaar net daarvan gedroom het om aan die wêreldkampioenskappe en Paralimpiese spele te kan deelneem, het ek nou genoeg tyd om voor te berei om ʼn medalje huis toe te kan bring.”

Sy visier is sekuur ingestel om in 2026 Suid-Afrika in die wêreldkampioenskappe te verteenwoordig en dan wag die Paralimpiese spele in 2028.

“Weet jy, voordat ek die moeilikheid met my linkerbeen opgetel het in Augustus 2021 was ek brandmaer. Vandag is ek in die beste shape van my lewe. Man, as ek sit lyk ek soos ʼn rugbyspeler,” lag hy vrolik.

Hy is dankbaar dat hy ʼn hele span mense agter hom het wat hom help en ondersteun. “Dit sluit almal in van my dokter en fisioterapeut tot by my fiksheidsinstrukteur en afrigter, vriende en familie.”

Leroi sonder ook sy vrou Lorandi-Mari uit as sy grootste dryfveer. Die twee het onlangs hul 10de huweliksherdenking gevier.

“Ek is haar ewig dankbaar. Sy verstaan my passie vir my sport en gun my dit om ʼn professionele atleet te wees. Sy hou my op my tone,” lag hy lekker.

Vir eers is die werk en atletiekoefening opsy gesit. Die Le Roux’s het die 27ste vir ʼn welverdiende blaaskans Kaap toe gevlieg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button