Local newsNewsNews

Vrugtekoekbakker van formaat deel resep

Na tien jaar is die vrugtekoeke wat in Willie Strauss se huisrestaurant gebak word steeds 'n gekoesterde tradisie. Hier is die wenresep as jy dalk self volgende jaar 'n heerlike vrugtekoek wil bak!

Sanger, liedjieskrywer en bekende radiokok van Cullinan, Willie Strauss, se vrugtekoek het ’n besonderse bestanddeel: die soete verleiding en bederf van kakao.

Die wel-ter-tale Strauss sê hy het die koeke begin bak toe hy nie werk gehad het nie en vir min konserte bespreek is.

“’n Vriendin het my gevra, ‘hoekom bak jy nie sjokoladevrugtekoeke nie?’ Sy het my haar resep gestuur en ek het my eie resep daaruit ontwikkel om dit eg Suid-Afrikaans te maak,” vertel Struass.

Hy het egte Suid-Afrikaanse bestanddele soos naartjies en makataanstukke ingesluit.

Sanger, liedjieskrywer en bekende radiokok van Cullinan, Willie Strauss.

Met sy eerste bestelling van 20 vrugtekoeke was hy erg in sy noppies. “Ek moes nog die poskantoor gebruik om die koeke te gaan wegstuur.”

Sedertdien het hy nog nie met die gewilde vrugtekoeke se gebak skuins voor Kersfees opgehou nie.

“Iets wat uit nood gebore is, het my gered. Ek is nou so bevoorreg en dankbaar dat mense by my bestel. Ek probeer elke koek my beste ooit te maak,” vertel hy.

Hy is ook bekend vir sy filosofie van dankbaarheid

Reeds ses jaar lank teken hy saans drie dinge aan waarvoor hy op die spesifieke dag voor dankbaar is.

“Dit is ongelooflik hoe dit my lewe verander het. Nou soek ek elke dag iets om voor dankbaar te wees.”

“Dit is ’n goeie ding om nie enigiets as vanselfsprekend te aanvaar nie. So ’n houding verander jou menswees,” wys hy uit.

Hy spog reeds met ‘n resepteboek, Daar is ’n engel in my koskas met sy 250 resepte  en werk nou aan ‘n tweede.

Willie Strauss se vrugtekoeke is gewild en lank voor Kersfees word bestellings al vir tien jaar lank by die radiokok, sanger en liedjieskrywer geplaas.

Willie Strauss se sjokolade-vrugtekoek

Bestanddele:

200g glanskersies in helftes gesny

50ml sjerrie

10ml kakao

10ml kitskoffiepoeier

500ml kookwater

1kg droëvrugte koekmengsel

150g gemengde neute

7ml koeksoda

125g botter

300g suiker

3 groot eiers

360g koekmeel

7ml bakpoeier

1ml sout

5ml gemengde speserye

100ml sjerrie

So maak mens

  1. Sit die oond op 140ºC.
  2. Los kakao en koffiepoeier in kookwater op en voeg by koekmengsel, koeksoda en suiker in ’n kastrol. Voeg sjerrie ook by.
  3. Verhit en kook vir 10 minute.
  4. Verwyder van hitte, voeg botter en kersies tesame met sjerriesous by.
  5. Laat mengsel goed afkoel.
  6. Smeer jou pan.
  7. Voeg eiers by die vrugtemengsel.
  8. Sif koekmeelblom, bakpoeier, sout, gemengde speserye saam en voeg dit stadig by vrugtemengsel terwyl dit goed geroer word.
  9. Meng neute saam en voeg by.
  10. Skep beslag in gesmeerde pan en bak in ’n voorverhitte oond vir ongeveer 2 ure totdat toetspen skoon uitkom.
  11. Koel die koek af in die pan en gooi 100ml sjerrie oor die warm koek.
  12. Verwyder uit die pan wanneer dit heeltemal afgekoel het.
  13. Gooi gereeld sjerrie oor om koek lekker klam te hou.
  14. Bewaar in lugdigte houer.
  • Kliek hier om na Strauss oor sy kookboek te luister: https://www.facebook.com/willie.strauss.9/videos/10156960374214047

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button