Ode aan Monet in woord en kleur
Mattie Joubert, talentvolle skilder van die Vaal, het in 2023 'n groot projek aangepak om die werke van die bekende Franse kunstenaar, Monet vas te vang.
HENLEY ON KLIP. – Een van die Vaal se talentvolle kunstenaars, Mattie Joubert, het aan die einde van 2022 besluit om ʼn groot projek rondom die Franse skilder, Claude Monet (1840 – 1926) aan te pak.
“Ek was nog altyd gefassineer deur Monet se werk”, beduie sy in haar ateljee waar skilderye van alle grotes en kleure jou welkom heet.
Januarie 2023 het sy met groot ywer haar vele boeke en nog meer begin bestudeer om meer van hom te leer.
Haar gedagte was om ʼn reeks van sy skilderye as mini kunswerke te verf. “Ek het altyd geweet hy het baie geskilder, maar toe ek besef sy skilderye trek by die 2000, het ek geweet ek sal moet kies en mooi kies.”
Sy het besluit om 40 van sy werke in kleiner formaat te kopieer. In die proses het sy probeer om ʼn paar uit elkeen van Monet se lewensfases weer te gee.
Mattie het ʼn skatkis van kennis oor die bekende kunstenaar se tegnieke, lewensuitkyk en hoe en waar hy geskilder het.
“Monet het baie van lig gehou en refleksie. Hy sou dieselfde toneel oor en oor skilder om die verandering van lig deur die loop van die dag vas te vang.”
Saam met die 40 skilderye het sy ook haar gedagtes en notas oor Monet in ʼn boek vasgevang en gepubliseer.
Die versameling van 40 is nie meer volledig nie, aangesien van die mini-Monets reeds verkoop is.
Indien enige een sou belangstel om ʼn boek te bestel of al die mini’s van naderby te beskou, kan Matte geskakel word by 082 566 0527.
