NewsNews

Min trane, baie lag op eerste skooldag

Onthou om vir Vaalweekblad se graad 1 kompetisie in te skryf. Slegs vir plaaslike skole en slegs in die gedrukte koerant. Geniet die storie oor die gr 1's se eerste dag.

VANDERBIJLPARK & VAALPARK. – Elke skool doen dinge anders, maar een ding is oral dieselfde, die eerste skooldag van die jaar is ʼn groot dag vir graad 1’s.

Soos die waarnemende hoof van Vaalpark Primêr, mnr Jannie Erasmus met die saalopening gesê het: “Dis jul eerste dag in hierdie saal in volle skooldrag.”

Sy graad eentjies het saam gestem. Terwyl die een Engelse klas na hul klas geloop het, het een outjie opgemerk, “I’ve got new shoes on,” waarna sy klasmaat agter hom verklaar het: “we all got new shoes on!”

Schume van der Merwe het vroegoggend al ‘n goue plakkertjie van Juffrou Kristen Tait gekry. Foto: Gerda Bruinette

Blinkswart skoene. Hemde en rokkies nog kraakvars. Skoolkleurlinte in die hare.

By Laerskool Emfulenipark het die jongelinge sommer al vroeg hul sit in die klasse gekry en aan die werk gespring.

Ok, hulle het ingekleur, maar in die skool is alles mos werk. Diep was die konsentrasie.

Groot die ontsteltenis toe hierdie joernalis opmerk, “dis ʼn baie mooi koei,” en die antwoord “tannie, dis ʼn unicorn!” Wel, dit was ʼn baie kleurvolle prentjie.

Jongman Franco Barnard het summier vir die tannie met die kamera gedemonstreer hoe sy fleksi-liniaal alkante toe kan buig sonder om te breek.

Wat tot die gevolg gehad het, dat sy tafelmaat Cameron Corbette dadelik sy liniaal sommer in ʼn sirkel gevou het.

Lujeen Labuschagné van Laerskool Kollegepark kon nie wag vir die dag om te begin nie. Foto’s Gerda Bruinette

Joernalis is met spoed daaruit, terwyl juffrou mooi moes verduidelik dat nie alle liniale so kan buig nie en dat liniale liefs gebruik moet word om reguitlyne te trek wanneer juffrou so sê.

Laerskool Koillegepark se graad 1’s het al van 07:00 by die kanthekkie ingestroom. Die meeste was heel gerus en baie opgewonde.

Hulle het die vorige dag al met hul juffrouens kennis gemaak as ook die hoofseun, hoofdogter en hul twee gesante.

Maar, toe was almal soos ruimtevaarders aangetrek en die voornemende graad 1’s het nog hul gewone drag aangehad.

Is darem baie anders as dieselfde “groot kinders” jou skielik by die hek inwag in hul netjiese skooluniform met die imposante baadjies en al die balkies.

Om darem dan by daardie paadjie af te stap en ʼn daisy-raam by die hoofseun te vat en daardeur te loer om afgeneem te word, is nie so maklik nie.

Verné Hatting van Vaalpark Primêr sit in afwagting vir die eerste les om te begin.

Dan moes hul boonop nog ʼn klok ook lui. Party het opgewonde meegedoen, ander was bietjie sku vir die klok en een outjie het dramaties sy oë gerol vir die aktiwiteit.

Tussen die drie skole, was daar min trane onder die kinders, maar groot manne het maar swaar gesluk toe hul van daardie klaskamers weggestap het.

Mia Rademeyer, Aubyn Kleu en Siphesihle Nhlapo van LS Emfulenipark.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button