Local newsNewsNews

‘Sentrum se sluiting ‘n terugslag vir gemeenskap’

Verskeie mense gaan hul werke verloor.

VEREENIGING. – 66 personeel van die Alpha Traumasentrum wat maatskaplike werkers, hulp-maatskaplike werkers, administratiewe personeel en bystandwerkers insluit, gaan nou hul werk verloor.

Die personeel is op 29 Februarie in kennis gestel dat die traumasentrum op 31 Maart alle aktiwiteite gaan staak en dat die personeel se kontrakte nie weer hernu gaan word nie.

“Aangesien u op ‘n vastetermynkontrak aangestel is, is geen afleggingsbetaling van toepassing nie,” lees ‘n brief wat deur past. Gerhardt Roodt, voorsitter van die Delta Gemeenskapskerk, aan die einde van Februarie aan personeel gestuur is.

Dit het skokgolwe onder werknemers uitgestuur.

Die Alpha Traumasentrum in Vereeniging. Foto: Christiaan Cloete

Vaalweekblad verstaan dat sommige van die personeel al sedert 2015 daar werk, maar dat hul kontrakte op ‘n jaarlikse basis hersien word, afhangend van befondsing deur die departement van maatskaplike ontwikkeling.

Die sentrum het uit die Delta Gemeenskapskerk ontstaan.

Die sluiting van die traumasentrum volg nadat past. Roodt die traumasentrum in Januarie as ‘n nie-winsgewende organisasie laat deregistreer het by die direktoraat vir niewinsgewende organisasies.

Dit het volgens ‘n werknemer van die traumasentrum dus veroorsaak dat die sentrum van enige moontlike befondsing van die departement van maatskaplike ontwikkeling gestroop is.

Werkgewers is ongelukkig hieroor omdat hulle voel dat dié besluit eensydig geneem is.

“Dit (die deregistrasie) het veroosaak dat ons nie meer fondse kry nie en sonder daardie fondse het die 66 mense hul werk verloor,” vertel ‘n werknemer.

Die werknemer beweer dat daar nie ‘n gebrek aan befondsing was nie, aangesien die departement van maatskaplike ontwikkeling sedert 2006 jaarliks geld aan die traumasentrum toegeken het.

“Dit was eerder ‘n onsekerheid oor befondsing – soos alle niewinsgewende organisasies maar ervaar.”

Die bron voel dat deregistrasie onnodig was.

Pastoor Gerhard Roodt, voorsitter van die Delta Gemeenskapskerk in Duncanville en sy vrou, Melinda Roodt, ‘n voormalige voorsitter van die traumasentrum.

Roodt se brief waarin hy vra vir deregistrasie lees: “Die rede vir die versoek om deregistrasie draai eerstens om die besluit van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling om nie al die aktiwiteite van Alpha Traumasentrum te finansier nie.

Dit het tweedens ‘n situasie geskep waar die mandaat van Alpha Traumasentrum nie nagekom kan word nie en ‘n disfunksionele en ‘n giftige werksomgewing geskep is deur die onsekerheid as gevolg van die gebrek aan finansiering.”

Roodt het by navrae laat weet dat die sentrum nie toemaak óf sy bedrywighede staak nie.

Volgens hom sal die sentrum as ‘n maatskappy bly voortbestaan, ten spyte van die feit dat dit as ‘n nie-winsgewende organisasie gederigestreer is.

“Dit (die sentrum) word geherstruktuureer om die bedrywighede in lyn te bring met die oorspronklike doelwitte soos uiteengesit in die grondwet, wat die operasionele risiko in terme van befondsing verminder,” sê hy.

Roodt het benadruk dat die geaffekteerde werknemers op vaste termyn kontrak aangestel is

“Die potensiële verlies van hul werk was dus nie onverwags nie. Al wat gebeur is dat die kontrakte nie hernu word nie,” sê hy.

Volgens Roodt is 45 van die 66 personeel vrywilligers wat nie eers ‘n minimumloon van die departement van maatskaplike ontwikkeling af ontvang het nie.

“Die raad het die besluit geneem om Alpha Trauma Sentum te derigestreer (in die belang van die voortbestaan van die maatskappy),” het Roodt benadruk.

“Die feit dat Alpha Trauma Sentrum in die verlede deur die departement van maatskaplike ontwikkeling befonds is, is irrelevant, maar die kwessie van voortgesette befondsing het ‘n belangrike kwessie geword met ‘n risiko-element wat deur die direksie aangespreek moes word,” sê Roodt.

Die sentrum bied volgens sy amptelike webwerf bemagtigende opheffingsprogramme, berading en ondersteuning aan diegene wat deur trauma geraak word.

Dit verskaf ook ondersteuning aan mishandelde vroue en kinders, sowel as hulp aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens in terme van die assessering van jong verkragtingslagoffers en die verskaffing van afleidingsprogramme vir kinders onder 18 en jeugdiges in stryd met die wet.

Die sentrum is ook by die onderrig van die jeug betrokke, waar dit kom by mishandeling en die aanleer van lewensvaardighede.

Die traumasentrum bied ook swangerskapkrisis bystand, gesinsgeweldintervensie en ander berading en bemagtig in Sedibeng, Midvaal en Heidelberg. Volgens die sentrum se webwerf is hy verbind om lewens te verander, besluite te beïnvloed en mense se lot te verander deur berading, opvoeding en ondersteuning.

‘n Uittreksel uit die brief waarin Roodt werknemers meedeel dat die Alpha Trauma Sentrum aktiwiteite gaan staak.

 
Back to top button