Sasolburg wys waartoe ‘n gemeenskap in staat is
SASOLBURG. - Al hoe meer lede van die dorp se AfriForumtak maak van die tak se toerusting gebruik om hul omgewings op te knap.

Dit het daartoe bygdra dat daar gedurende Februarie sowat 34,1 ha gras deur 43 inwoners gesny, en 5,3 ha skoongemaak is.
“Daar is ook ’n reuse-slaggat van 4,5 vierkante meter met 23 sakkies teer herstel. Die tak het ook ’n wasbakstaander vir die Van Riebeeck-gemeenskapsentrum gebou,” vertel Ischke van Eeden, mediaskakelbeampte.
Die plaaslike AfriForum-buurtwag is net so besig, veral in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Die buurtwag ry elke Sondag vir twee ure patrollie by die begraafplaas om inwoners se veiligheid te verseker terwyl hulle hul geliefdes se grafte besoek.
Verder word daar daagliks gepatrolleer in die woonbuurte en industriële gebied.
“Daar is selfs ’n padblokkade saam met die polisie gehou waar boetes uitgereik en arrestasies
gemaak is. Tydens ’n skoolbesoek saam met die polisie is daar op sigarette, dagga en dwelms
beslag gelê. Hierdie sake is deur die skool saam met die ouers opgeneem. Onwettige drankverkope is ook getakel,” sê Ischke in die mediaverklaring.
Die tak het ook ingespring en hulp verleen aan instansies wat betrokke is by die uitroei van waterslaai uit die Vaalrivier.

Op munisipale gebied het die takbestuur ’n vergadering met die waarnemende munisipale bestuurder en direkteur van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gehad, waar knelpunte ten opsigte van dienslewering bespreek is.
“Die tak sal die vordering fyn dophou,” is die versekering.
Daar is ook opwindende nuus oor die tak se maandelikse mark wat in die Hoëveldse Tuine gehou is.
Die mark sal voortaan by Die Veiling plaasvind. Die eerste mark by die nuwe venue is 30 Maart en die hele gemeenskap word genooi om die dag saam te geniet.
“Hierdie tak se sukses word toegeskryf aan hul goeie samewerking en die feit dat lede van die gemeenskap self inspring en met die harde arbeid help. Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer kan gedoen word en hoe beter kan die dorp lyk,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.
* Inwoners wat by die Sasolburgtak se projekte betrokke wil raak, kan Marjoné Cooks by 061 925 1804 kontak.
