Local newsNews

Herman na maande uit intensiewe sorgeenheid

VANDERBIJLPARK. - “My pa se bene is verskriklik seer, hy het ‘n bedseer op sy hak en het tans ‘n hoogs aansteeklike fungus, maar hy is uit die intensiewe sorgeenheid en kan ook weer vaste kos eet.”

So vertel Bernadine Muller, dogter van Herman Putter wat verlede jaar ernstige brandwonde
opgedoen het.

Die Putter-gesin van CE4 se lewens het op 10 September 2023 in ‘n oogwink verander toe Herman se klere aan die brand geraak en van sy lyf afgebrand het toe hy ‘n boks aan die brand wou steek.

Herman was sedert daardie dag in die Netcare Alberton-hospitaal se sorg omdat hulle ‘n goeie brandeenheid het. Hy het sedertdien verskeie prosedures, waaronder ‘n veloorplanting, ondergaan en was vir ‘n lang tydperk aan ‘n ventilator gekoppel.

Dit het aan die begin van die jaar gelyk of dinge begin beter gaan vir Herman, maar op 1 Februarie het hy ‘n beroerte gehad, gevolg deur baie seizures. Weens die beroerte het hy skade aan die regterkant van sy liggaam en brein opgedoen.

Herman is op 28 Februarie na die Netcare Rehabilitasiesentrum in Aucklandpark, Johannesburg geneem.

Hy moet vir agt weke hier versorg word en kry daagliks spraak- en fisioterapie. Daar gaan veral gefokus word dat hy sy arms kan begin oplig en probeer staan.

Sy bene is nog baie seer, maar daar word nou gefokus dat Herman binne die volgende agt weke weer sal kan staan.

“Maar hy het seer. My pa sê dit voel of daar ‘n miljoen naalde in sy bene steek,” vertel Bernadine.

Dit wil darem voorkom of Herman se gemoed baie beter is as toe hy in die hospitaal in ‘n geïsoleerde kamer was. Hy het ook nou ‘n kamer waar hy darem die son, bome en geboue kan sien.

“Hy is maar nog emosioneel want hy mis ons, maar hy het ‘n sterk wil om gesond te word en doen sy beste,” sê Bernadine. Hulle hoop dat Herman na die agt weke in die rehabilitasiesentrum sal kan huis toe kom.

“Hy sal egter 24/7 ‘n verpleegster nodig hê om hom te versorg. Intussen moet my ma die huis rolstoelvriendelik maak, en ander veranderinge aanbring om dit so gemaklik moontlik vir my pa
te maak,” vertel Bernadine.

Maar voor dit gebeur gaan die gesin op 24 Maart Herman se verjaardag vier.

“Hy smag na vleis so ons beplan ‘n heerlike Spur-ete vir hom in die sentrum se tuin – as die fungus weg is en ons toegelaat word,” sê Bernadine.

Na sowat 190 dae in die intensiewe sorgeenheid is die Putters se mediese rekeninge hemelhoog.

Pretdag by die Centurions Motorfietsklub in Vanderbijlpark

Daar word Saterdag, 23 Maart as deel van ‘n fondsinsamelingprojek ‘n pretdag beplan by die Centurions se klubgronde in Shakespearstraat, CW6, Vanderbijlpark.

Daar gaan baie vermaak wees en heerlike hamburgers teen R45, hotdogs teen R20 en cupcakes teen R10 te koop wees. Daar gaan ook kaartjies teen R20 ‘n lootjie te koop wees.

‘n Weeklange wegbreekvakansie kan gewen word.

Die publiek kan die gesin ondersteun deur ‘n draai daar te maak en iets te ete te koop.

Alle ondersteuning sal waardeer word.

Muddy Princess

Bernadine en haar sussie Marcia gaan ook aan die jaarlikse Muddy Princess (5 km hindernisbaan) deelneem as fondsinsameling.

“Ons pleit by besighede en die publiek om ons per kilometer te borg. Maak nie saak hoe klein of groot nie, ons sal al die ondersteuning waardeer en jul logo’s op ons hempde dra,” sê Bernadine.

Indien daar enige besighede of individue is wat die gesin geldelik kan ondersteun, kan geld direk in die onderstaande rekening inbetaal

M.M Putter
Rek nr. 41-1066-2855
Absa
Tjekrekening
Verwysing: MP

* Plaas asseblief u naam sodat die gesin u kan bedank.

Saterdag word ‘n fondsinsameling vir Herman gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button