Local newsNewsNews

Duisende kiloliter water verlore terwyl inwoners dors ly

Terwyl talle inwoners van Gauteng die afgelope paar weke dors gely het, borrel ongeveer 2 000 kiloliter water per sekonde uit drie gebarste watertoevoerpype van Randwater in die Kromvlei-gebied tussen Midvaal en Alberton.

Randwater se Zwartkopjes-pompstasie is op ʼn plaas in Kromdraai geleë.

ʼn VF Plus-afvaardiging onder leiding van Amanda de Lange, Gautengse LPW, wat ʼn oorsigbesoek aan dié gebied gebring het, het die vermorsing van kosbare water self gesien en beskou dit as misdadigheid om water so te vermors.

In ‘n mediaverklaring verduidelik De Lange dat die water vanaf die Vaaldam deur die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit gepomp word, waar dit per pypleiding na onder meer die Ekurhuleni- en die Johannesburg-metro’s, die Midvaal-plaaslike munisipaliteit en ander aangrensende munisipaliteite versprei word.

Randwater is blykbaar reeds die afgelope drie jaar bewus van die gebarste watertoevoerpype en het ʼn watersloot oor die plaas gegrawe na die Kliprivier om die vermorste water te herlei.

Daar is ook opgemerk dat riool vanaf Randwater se behuisingskompleks in die Kliprivier gestort word.

Die stukkende ondergrondse pypleiding het die bolaag van die grond sodanig weggekalwe dat ʼn dam gevorm het.

“Die grond om die dam hou ʼn wesenlike gevaar in vir kinders en inwoners van ʼn nabygeleë plakkerskamp wat water uit die dam skep vir huishoudelike gebruik.

“Die kwaliteit van die water kan waarskynlik ook gesondheidsgevare inhou omdat dit nie gemonitor word nie,” verduidelik De Lange.

Volgens inwoners van die omgewing word die stroom water ook gebruik om wasgoed te was.

“Die VF Plus hou Randwater direk verantwoordelik vir hierdie vermorsing van water en sy moontlike aandeel in die onlangse waterkrisis wat in die westelike voorstede van Johannesburg en die Mogale City-plaaslike munisipaliteit ontstaan het.

“Buiten vir die probleem by Randwater se Eikenhof-pompstasie, is die waternetwerk verder benadeel weens die massiewe waterverliese by die wateraanleg in die Kromdraai-gebied wat aan die bopunt van die waternetwerk lê.

“Die bykans elf dae lange watertekort waaronder Mogale City gebuk gegaan het, volg ook kort op die aankondiging van die (Gautengse of nasionale?) departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) dat Randwater R355 miljoen aan die nasionale tesourie moes teruggee omdat dit nie gebruik is nie,” sluit De Lange af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button