KYK: Midvaal skenk 40 rolstoele, 20 krukke aan gestremdes
Die burgemeester sê dis 'n “munisipaliteit wat omgee.”

MEYERTON. – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het Woensdag 40 rolstoele en 20 pare krukke aan gestremde mense van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit geskenk.
Dit vorm deel van die munisipaliteit se verbintenis tot die welstand van die gemeenskap en om persone met mobiliteitsuitdagings te ondersteun.
Rdh. Peter Teixeira, die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, het tydens ‘n toespraak by die oorhandiging van die rolstoele en krukke gesê die munisipaliteit wil meer as net basiese dienste lewer en ook inwoners wys dat hulle ‘n regering is wat “omgee”.
Teixeira het gesê dat hy die munisipaliteit toeganklik wil maak vir al Midvaal se mense, insluitend bejaardes en mense met gestremdhede.
Teixiera het tydens die oorhandiging die privaatsektor en plaaslike besighede uitgenooi om betrokke te raak by projekte soos dié, wat die lewens van mense verbeter.

