Local newsNewsNews

Boetie en sus geniet spring, klim en klouter

In die Jacobs-huishouding is daar altyd 'n gespring, klim en klouter, want LC en Milan geniet hul gimnastiek en trampolien

VANDERBIJLPARK. – Die een hou van trampolien spring, die ander van klim en klouter. Albei is uitstekende gimnaste en geniet hul sport.

LC en Milan Jacobs is onderskeidelik in graad 3 en 6 aan die Laerskool D.F Malherbe.

Milan, Lerike en LC Jacobs.

Milan beoefen al gimnastiek van graad RR af. “Ek wou altyd gimnastiek gedoen het, maar my pa was bang ek kry seer. Toe doen ek ballet, maar dit was vervelig,” sug sy.

Sy het by die huis begin bollemakiesies en wawiele doen en haar ma, Lerike het besef daar is nie salf te smeer nie. Milan wou gimnas wees. Sy het trampolien ook gespring, maar gimnastiek het gewen.

In 2022 het sy deurgedring na die Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioenskappe en ‘n 19de plek op vlak vier behaal.

Verlede jaar het sy weer Sedibeng kleure gekry en later Gauteng kleure. Sy het weer die Gautengspan by die SA’s verteenwoordig en ‘n algehele sewende plek behaal op vlak vyf.

Daarmee saam het sy ‘n silwer medalje vir spronge (vault) behaal. Milan sê sy hou van klim en klouter en dan speel sy ook netbal.

Sy hou van sport, maar “ek is verlief op kultuur,” verklaar sy plegtig. Enige iets van redenaars tot poësie voordra en samespraak saam met haar vriendin.

LC aan die anderkant is gek oor sport. Hy het met trampolien begin, “omdat my sussie dit gedoen het” en gimnastiek, “want my vriende doen dit.”

Trampolien wen loshande by hom. Hy het ook reeds Sedibeng kleure in trampolien verwerf. Dan speel hy ook klubkrieket, rugby en hokkie.

“Ek hou daarvan om te kolf. Weet jy, ek dink die o.19 Proteas is beter as die groot Proteas,” lug hy sy mening.

Rugby lê hom na aan die hart en as hy nou al moet kies, sal hy eendag ‘n Springbokrugbyspeler wil wees.

Milan wil ‘n biokinetikus word, dan kan sy ten minste help sou haar boetie seerkry as hy rugby speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button