Ghost Riders groet ‘n geliefde lid
"Ons harte is stukkend. Dit is veral 'n harde slag vir ons pa, wat sy jongste kind en enigste seun verloor het," sê sy suster.

VANDERBIJLPARK. – Die Ghost Riders (Vaal Chapter) is in rou nadat een van hul toegewyde lede, Kallie van Zyl, Saterdag, 9 Maart in ‘n botsing in die dorp gesterf het.
Die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek, maar volgens ooggetuies het Kallie pas by die groenlig by die kruising tussen Langenhoven- en Faraday-boulevard weggetrek toe sy motorfiets deur ‘n voertuig getref is. Hy het ernstige hoofbeserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Dit was slegs vyf dae na sy 47ste verjaardag.
“Ons harte is stukkend. Hy was uit-en-uit ‘n goeie, dierbare mens. Dit is veral ‘n harde slag vir ons pa, wat sy jongste kind en enigste seun verloor het. Ons pa was so trots op hom,” sê sy suster, Alida.
Kallie is op 4 Maart 1977 in Bloemfontein gebore en het in 1991 saam met sy gesin na die Vaaldriehoek verhuis. Hy het na skool sy ambag as draaier voltooi en die afgelope 12 jaar by Highpoint in Vereeniging gewerk.
“Kallie was ‘n spontane, rustige mens wat niks van rusies gehou het nie. Hy het altyd probeer om almal te help,” sê Alida. “Hy was baie lief vir motorfietse en die motorfietsklub was sy lewe.”
Sy geliefdes moet nou aanvaar dat hulle nooit weer gaan hoor hoe sy motorfiets in die middae na werk om die draai kom nie. “Ons was baie lief vir hom,” sê sy suster.
Buiten Alida en haar dogter, wat ‘n sterk band met Kallie gehad het, word hy ook oorleef deur sy dogter Nicci, seun Pieter, sy pa mnr. Braam van Zyl, en nog ‘n suster, Manda.
Lede van die Ghost Riders het Maandag hul laaste eer aan Kallie betoon toe hulle saam met die familie in ‘n stoet na die Sasolburgse begraafplaas gery het vir die finale afskeid.

