Talentvolle Valies te sien in grootse vertoning
Dit is vanjaar die vierde keer dat "Staan Sterk in Afrikaans" aangebied word. Dit word op 20 April by die AfriForum-teater in Pretoria gehou.

MEYERTON. – Die Vaaldriehoek spog met vyf plaaslike kunstenaars wat op 20 April aan die groot nasionale vertoning, Staan Sterk in Afrikaans, in Pretoria gaan deelneem. Die vertoning gaan by die AfriForum-teater plaasvind.
Die plaaslike sterre, wat die afgelope jare diep in hul aanhangers se harte ingekruip het, is die vier lede van die jeug-“band”, 4 Eva Young, en die sanger Sean Miles, almal van Meyerton. 4 Eva Young bestaan uit Johan van Rooyen, Ruben Herbst, Caitie Rock en Zandri Bezuidenhout.
Hoewel Sean en die vierstuks van 4 Eva Young nie saam-saam gaan optree nie, gaan hulle regdeur die vertoning in verskillende afdelings soos oorspronklike liedjies, FAK-liedies en gospel gesien en gehoor word.
Dit is vanjaar die vierde keer dat Staan Sterk in Afrikaans aangebied word. Volgens die organiseerders beloof dit om ‘n opwindende vertoning te wees met indrukwekkende kunstenaars soos Mia, Karlien Husselman, Anton Fitchat, Saarkie en nog sowat 30 ander.
“In hierdie skouspel van klank en gees eer ons nie net die huidige generasie kunstenaars nie maar wys ons ook ons waardering vir die ryk erfenis van ons nasie. Daar is ook ‘n besondere fokus op die oordrag van hierdie erfenis aan die volgende generasie. Elke jaar doen ons ‘n huldeblyk aan ‘n kunstenaar wat ‘n groot verskil in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het. Vanjaar bring ons hulde aan Min Shaw,” sê die organiseerders in ‘n mediaverklaring.
Die een-aand-geleentheid op 20 April is bedoel vir élke Afrikaanse musiekliefhebber wat graag wil saamstaan, saamsing en saam trots Afrikaans wil wees.
Kaartjies kos R150 per persoon en is beskikbaar by www.afriforumteater.co.za
Meer besonderhede is beskikbaar by 061 415 7737.
