Local newsNews

Carien (16) se eerste chemo is verby, nou lê die volgende voor

Sy gaan nou oor 'n tydperk van etlike maande gereeld chemoterapie ontvang om die verspreiding van die siekte te stuit

 

SASOLBURG. – Carien Jacobs, die 16-jarige skoolmeisie wat onlangs met kanker gediagnoseer is, is verlede Maandag voorlopig uit die Universitas-hospitaal in Bloemfontein ontslaan. Sy sterk nou by haar ouerhuis in Sasolburg aan voordat sy op 6 April moet teruggaan vir haar volgende chemoterapie.

Vaalweekblad het vroeër berig dat ‘n kankergewas van 7 kg aan Carien se een eierstok in Januarie verwyder is. Sy en haar ouers het ‘n paar weke later die slegte nuus gekry dat haar niere net 30% funksioneer en dat die kanker moontik daarheen versprei het. Hoewel sy met stadium 3 kanker gediagnoseer is, blyk dit dat die kanker gelukkig nie na haar niere versprei het nie. Hulle funksioneer tans net nie optimaal nie omdat vergrote kliere in haar buik ‘n blokkering van die nierpypies veroorsaak.
Sy gaan nou oor ‘n tydperk van etlike maande gereeld chemoterapie ontvang om die verspreiding van die siekte te stuit en die vergrote kliere te laat krimp. Dit sal na verwagting ook help om haar niere beter te laat funksioneer.

Hoewel sy moedig bly, was die afgelope maand vol beproewings vir dié fyngeboude leerling van die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg. Haar eerste chemo-sessie het verlede Donderdag nie sonder probleme begin nie. Kort nadat daar met die toediening begin is, het sy ‘n allergiese reaksie gekry en dit moes dadelik gestaak word. Gelukkig kon haar behandeling vinnig aangepas word, waarna sy haar eerste sessie kon voltooi.

“Carien was die volgende dag net baie naar en erg geswel. Daar lê nog drie sulke chemo-sessies in Bloemfontein voor, waarna sy elke keer vir vier weke sal mag huis toe kom,” sê haar ma, mev. Chrissie Jacobs. “Ek kry my kind uit my hart uit jamner. Die naarheid, moegheid en maag wat spoel, vat hard aan haar. Carien se eetlus is weg en sy peusel net aan haar kos. Sy sal langtermyn chroniese medikasie moet gebruik en sukkel met hoë bloeddruk. Sy bly ook steeds baie geswel van al die vog.”
Carien moet op 6 April weer Bloemfontein toe gaan vir haar volgende chemo-sessie van drie dae, maar sal minstens vyf dae in die hospitaal moet bly vir verdere toetse.

Haar ouers het tans nie ‘n voertuig nie en is afhanklik van vriende om Carien Bloemfontein toe en terug te neem. Die gesin sal enige bydrae om met die brandstofkoste te help, opreg waardeer. ‘n Inbetaling kan gedoen word aan C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.

* Weens Carien se siekte het sy die afgelope maande geweldig baie gewig verloor en al haar klere is te groot. As daar mense is wat tienerklere vir haar kan skenk of leen totdat sy weer gewig opgetel het om in haar eie te pas, sal dit hoog op prys gestel word. Mense wat kan help, kan mev. Jacobs kontak by 079 482 5474.

Carien Jacobs.
Dié foto van Carien is verlede Maandag deur haar ma, mev. Chrissie Jacobs, in die hospitaal in Bloemfontein geneem. Carien probeer hier dapper glimlag nadat sy gehoor het sy kan vir ‘n paar weke teruggaan Sasolburg toe voordat sy op 6 April weer by die hospitaal in Bloemfontein moet wees.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button