Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Dinge gebeur en almal karring net voort

RUBRIEK. - Ek wou stil bly hieroor, maar ek kon nie...

RUBRIEK. – Ek is omgekrap. Ontstig en ontsteld. Om verskeie redes. Oor ‘n avokado-verkoper verlede Vrydagmiddag net voor 13:00 doodgery is.

Ek is daar verby en twee ambulanse was op die toneel besig om hom te behandel. Omstreeks 16:00 is ek weer daar verby.

Hy het steeds daar gelê. Onder ‘n silwer kombers. Oorlede. Twee polisiebeamptes het verveeld by die polisiemotor gewag. Seker vir die lykswa.

Drie ure het die man daar gelê. In die bloedige son. Ek het nie sy naam geken nie. Hy was altyd vriendelik. Altyd reg vir ‘n vinnige grappie deur die oop venster.

Nooit opdringerig nie. Hy het nie gebedel nie. Ook maar net ‘n inkomste probeer verdien.

Dit was Vrydag. Saterdagmiddag toe word ek weer ontstig. Die keer deur ‘n lang serp.

‘n Serp wat bestaan uit duisende 1 m serpe. Almal gehekel deur ywerige tannies van alle ouderdomme om uiteindelik onder armes versprei te word.

Ja, dit was vir ‘n rekordpoging. Ja, die rekord is gebreek en ja, op die veld het meer as 35 000 serpe netjies op die gras gelê.

Maar, dit was die serpe wat doodluiters van die groot hek, langs die pad en oor die parkeerterrein neergelê is, wat my ontstig het.

Motors het oor die serpe gery. Voete het bo-oor geloop. Niemand het eers die fyn hekelwerk raakgesien nie.

O “briljante idee”… volg die gekleurde serp tot by die ingang. Maar, het enige iemand gedink hoeveel ure is daarin om elkeen te hekel? Hoeveel tannies met gekromde rumatiek hande het elke stekie met liefde gewerk? Blykbaar nie.

Die serpe het tot Maandagoggend daar gelê in die wind en weer. Alles is darem nie verlore nie.

Alhoewel die klomp serpe nie vir behoeftiges geskenk sal word, soos die ander 35 000 nie, het iemand reeds aangebied om komberse vir dierewesies daarvan te maak.

Feit bly staan, dit was nie die oorspronklike doel van die serpe nie. Daar is baie ure en konsentrasie en liefde in elke serp en nou is dit onbruikbaar vir menslike gebruik.

Maar, dit gaan seker maar meer oor die beroemdheid en die inskrywing in ‘n internasionale boek as oor liefdadigheid. Wie sal nou regtig weet?

Die avoverkoper lê onder ‘n silwer kombers langs die pad. Oor handgemaakte artikels word daar blindelings gery en ons almal foeter maar net voort om ons eie doelwitte te bereik. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button