Local newsNewsNews

Poppie is die mooiste pampoen

Poppie is mooi van binne en buite.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (22 Maart) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir die jongste nuus uit die Vaaldriehoek.

MEYERTON. – Pampoen Poppie, die pampoenkind van Midvaal se pampoenkoning, Wykus Lamprecht, was nou weliswaar nie die swaarste pampoen by vanjaar se Goliat van Gat Pampoenfees nie, maar wel die mooiste!

Die pampoenfees het Saterdag 16 Maart vanaf 13:00 tot 18:30 by die Pretoria Boeremark-skougronde in Silverton plaasgevind.

Wykus, ‘n elektromeganikus van Meyerton het die kompetisie die vorige drie jaar agtereenvolgens gewen.

Wykus Lamprecht saam met Poppie. Foto: Facebook

Verlede jaar het hy ook die rekord met sy wenpampoen, Liesbet – wat die skaal op ‘n allemintige 890 kg laat kreun het – laat spat.

Vanjaar moes hy, wat gewig aanbetref, met ‘n tweede plek tevrede wees.

Die beoordelaars het wel toegegee dat Poppie ongetwyfeld die mooiste pampoen was. Poppie weeg ‘n indrukwekkende 568kg.

Wykus het na afloop van die kompetisie gesê dat Poppie hom verbaas het, omdat sy bykans 6% meer geweeg het as die voorspelling wat volgens haar afmetings gedoen is.

Ten spyte van al die uitdagings is ek meer as tevrede,” het Wykus gesê.

Die binnekant van Pampoen Poppie nadat sy opgekap is vir liefdadigheid. Kyk net hoe mooi is haar vleis se kleur! Foto: Christiaan Cloete

Oor sy kanse van ‘n vierde oorwinning was Wykus van die begin af beskeie.

Hy het voor die kompetisie aan Vaalweekblad gesê: “Die pampoen wat ek dié jaar na Goliat van Gat toe vat groei in my eksperiment tuin.”

My groot tuin se grond is moeg en moet eers weer aan gewerk of reggestel word as ek weer pampoene oor die 500 kg daar wil groei.”

Wykus het na afloop van die kompetisie sy borge, groeiers, ondersteuners en die organiseerders bedank.

Dankie Hemelse Vader vir nog ‘n seisoen van genade op genade onverdiend,” het hy gesê.

Tydens vanjaar se Pampoenfees, georganiseer deur TLU SA, was daar pryse vir die grootste, mooiste en lelikste pampoen.

Wykus Lamprecht en sy span. Foto: Christiaan Cloete
Pampoen Poppie gelaai en op pad na die Goliat van Gat Pampoenfees. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: [email protected]
Back to top button