Mans se ‘stille nasionale noodgeval’
Junie is bewusmakingsmaand vir Mans se Geestesgesondheid, 'n tyd wanneer die stigma rondom mans se geestesgesondheidskrisis beveg word.
Met Statistieke Suid-Afrika se vrystelling van die Werkmagopname-uitslae vir die eerste kwartaal, staan die werkloosheidskoers tans op 32,7% – ’n skokkende weerspieëling van SA se huidige ekonomiese klimaat.
Al hoe meer huishoudings word in armoede gedompel. Terwyl finansiële druk voortduur, is daar ’n ewe groeiende, dog dikwels misgekykte, gevolg: die beduidende impak op geestesgesondheid.
In Suid-Afrika sterf ongeveer 14 000 mense jaarliks weens selfdood, wat die land onder dié met die hoogste selfdoodsyfers op die vasteland plaas. Mans word veral hierdeur geraak.
Dit word beskryf as ’n “stille nasionale noodgeval.”
Patriargie en jou geestesgesondheid
Geslagsdinamika vererger hierdie stryd nog verder. Diepgewortelde maatskaplike verwagtinge plaas mans steeds in die rol van die primêre broodwinner.
Tydens tydperke van ekonomiese swaarkry, soos die huidige ekonomiese klimaat, word hierdie verwagting verhoog.
Studies toon dat mans twee keer so geneig is as vroue om die finansiële las in ’n verhouding te ervaar.
Gevolglik is mans meer geneig om hul emosies te onderdruk en voel hulle gedwing om tydens ’n krisis “sterk te bly” en “praktiese beheer te neem.”
“Hierdie norme, wat grootliks in patriargale strukture gewortel is, ontmoedig dikwels die soeke na hulp,” sê dr. Avron Urison, hoof-mediese beampte by 1Life Insurance.

Herken die vroeë waarskuwingstekens
Vroeë waarskuwingstekens kan die volgende insluit: ’n deurlopende neerslagtige bui, buitensporige bekommernis, geïrriteerdheid, swak slaap, ’n verlies aan belangstelling in gewone aktiwiteite, veranderinge in eetlus, moegheid, verminderde konsentrasie, sosiale onttrekking en verswakte werksprestasie.
Geestesgesondheidsimptome word dikwels as bloot stres, uitbranding of moegheid gerasionaliseer, maar voortdurende veranderinge in gemoed, slaap, motivering of funksionering moet ernstig opgeneem word.
Neem beheer van jou welstand
Ondersteuning is binne bereik. Oop kommunikasie is noodsaaklik; om daaroor te praat verseker dat uitdagings vinnig geïdentifiseer en aangespreek word voordat dit in ernstiger geestesgesondheidsprobleme ontaard.
Vroeë intervensie kan berading, psigoterapie, mediese evaluering en toepaslike medikasie insluit.
Ondersteuning in die werkplek, gereelde oefening, ’n gesonde dieet, doeltreffende slaapbestuur en die hantering van bydraende fisiese gesondheidstoestande is ook noodsaaklik om stres te verminder en holistiese welstand te ondersteun.
“Hierdie strategieë klink dalk eenvoudig, maar hulle is hoogs effektief in die hantering van die geestesgesondheidskrisis. Ons moet gesprekke oor geestesgesondheid normaliseer en kwesbaarheid aanmoedig.
“Mans moet ook toegerus word met die regte hulpmiddels en ondersteuningstelsels om finansiële uitdagings beter te kan hanteer,” voeg dr. Urison by.
“Die beskerming van jou geestelike welstand beskerm ook gesinstabiliteit en langtermyn finansiële sekuriteit,” beklemtoon dr. Urison.
