Carol was ‘n brokkie son in baie se lewens
"Sy was 'n besonder liefdevolle, geduldige en advontuurlustige mens wat opreg vir haar medemens omgegee het."

VANDERBIJLPARK. – Mev. Carol Grobbelaar (61), wat saam met haar man diep spore in die plaaslike gasvryheidsbedryf getrap het, het op 10 Maart in die Netcare-hospitaal in Alberton beswyk. Hoewel sy aan verspreide breinkanker gely het, was dit ‘n bloedklont in die long wat uiteindelik haar lewe geëis het.
Carol en haar man Helgard se gastehuis, Ingwe Guest Lodge, is al dekades lank ‘n bekende bymekaarkomplek vir lede van die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC). Verskeie sakekamervergaderings en nasionale kongresse is deur die jare hier gehou.
Carol is op 24 Februarie 1963 in Port Elizabeth (nou Gqeberha) gebore en het in Bloemfontein grootgeword voordat sy omstreeks 1988 na Vanderbijlpark verhuis het. Na skool het sy ‘n diploma in kantoor-administrasie voltooi – ‘n kwalifikasie wat handig te pas gekom het in haar loopbaan as huis- en verhuringsagent, en later ook in die bestuur van die gesin se gastehuis.
Haar seun Christo onthou haar as ‘n besonder liefdevolle, geduldige en advontuurlustige mens wat opreg vir haar medemens omgegee het.
“Sy het elke liewe dag geglimlag en die lewe elke dag met nuwe lewenslus aangepak. Dit was vir haar belangrik om altyd memories saam met haar kinders en kleinkinders te maak. Sy sou enigiets vir ons doen,” sê hy.
“Sy het baie getoer en nuwe lande, dorpe en plekkies besoek. Sy was baie lief vir kook en bak en het ook graag resepteboeke bymekaargemaak.”Haar geliefkoosde sêding, “die son skyn, so ons moet aangaan”, sal haar gesin vir altyd bybly en vorm ook die basis van hul eie positiewe lewensbeskouing.
Carol word buiten haar man Helgard en seun Christo ook oorleef deur haar dogters Ellen en Caroline, haar skoonkinders Francios, Stephan en Francisca, en drie kleinkinders, Danijel, Christopher en Joscios.
‘n Gedenkdiens is Vrydag vir Carol by die Vaalrivier-gemeente in Vanderbijlpark gehou. Almal het helderkleurige klere gedra ter ere aan ‘n vrou wat soveel kleur en lig in baie se lewens gebring het.
