Local newsNewsNews

Plaaslike sangeres stort hart uit in opbreek-liedjie

Dit is ‘n opbreek-liedjie van ‘n ander soort.

*Die berig het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (22 Maart) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – Daar is oor die jare al baie liedjies oor die opbreek van liefdesverhoudings geskryf.

Die plaaslike sangeres Chloé-Jade Christian se “opbreek”-liedjie getiteld “Won’t Turn Back” gaan egter nie oor die opbreek van ‘n liefdesverhouding nie, maar wel oor die opbreek van ‘n vriendskap.

Om ‘n vriend te verloor kan immers net so seermaak as om ‘n minnaar of minnares te verloor.

Dit is dié seerkry wat die inspirasie was vir die 16-jarige Valie se debut-enkelsnit.

Die lied het sedert sy vrystelling al baie hartsnare geroer en herinner sterk aan Taylor Swift se “Bad Blood”.

Daar word gesê dat mense dikwels in jou lewe kom vir ‘n rede, dikwels net vir ‘n seisoen, maar somtyds vir ‘n leeftyd.

Elkeen wat jy ontmoet dien dus ‘n spesifieke doel in jou lewe.

Die mense wat ons langs die lewenspad ontmoet het dikwels ‘n uitwerking op ons lewens en help om ons te vorm.

Dit is belangrik om te verstaan dat mense nooit sal inpas waar hulle nie veronderstel is om te wees nie.

Dit is die harde werklikheid wat dié jong sangeres vroeg in haar lewe geleer het en nou die tema is van haar liedjie.

Chloé-Jade Christian.

Chloé-Jade vertel dat die liedjie ‘n katartiese proses was. Die lied is opsigself egter nie somber nie.

Hoewel die lirieke uit die pen opreg is en oor ‘n harde lewensles gaan, is die liedjie nogtans op ‘n manier vrolik en opgewek.

Die liedjie is met die hulp van die vervaardiger en bekende liedjieskrywer, Gino Lee opgeneem en gemeng by River Road Records.

Chloé-Jade en Gino het van die begin af ‘n visie gehad en saam het hulle lewe in “Won’t Turn Back” geblaas.

Chloé-Jade benadruk dat dit belangrik is om te besef dat nie alle vriendskappe beëindig word omdat een van die partye iets verkeerd gedoen het nie.

“Somtyds is dit net tyd om aan te beweeg. Soos die lewe verander, so sal ons vriendekring ook verander. Ek wil graag my ervaringe met ander deel, veral met dié wat nog nie besef dat hulle nie alleen is nie,” sê die sangeres.

Chloé-Jade Christian.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button