Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Antjie protesteer alweer

RUBRIEK. - Wanneer die onbetwiste koningin van die huis iets wil hê, dan wil sy dit hê.

RUBRIEK. – 1 Mei. ‘n Publieke vakansiedag. Werkersdag. Kleinsus Antjie, die pekinees wat reken sy is die koningin van die huis, het net die werk gedeelte van die dag gehoor.

Vroeg moes ons al winkels toe want dié koninklike het weer net die hoendersakkies van haar “puppykos” geëet.

(Ma sê Antjie se tande is seer en sy het al heelwat verloor, so sy kan nie meer harde kos eet nie.) Ek moes nog sakkies vir haar gaan koop en droëwors.

Ja, toemaar ek verstaan ook nie hoe kan sy die droëwors eet, maar nie die harde bolletjies nie. Dis ‘n geskarrel die kant toe en daai kant toe en uiteindelik het almal middagete geëet en Antjie kom tot rus vir haar middagslapie.

Ek ook. Net ‘n rukkie, want die spertyd is op hande en spertyd glo nie aan publieke vakansiedae nie.

14:00 sit ek die skootrekenaar aan en begin verwoed telefoniese onderhoude doen en artikels skryf.

Vlak na 17:00 (die spertyd was al 16:00, maar my redakteur was genadig), kom Ma die kamer in. “Nou wanneer eet ons? Antjie is al honger.”

Ek gaan maak kos. Vinnig. Nie vinnig genoeg na die ander pekinese, Her Royal Naughtyness Heidi en Baba Bessie se sin nie.

Bessie hou my met groot oë in die kombuis dop en Heidi hardloop kort-kort kamer toe, wag vir ‘n rukkie en kom dan weer terug om te kyk waar draai ek so.

Eindelaas is alles klaar. Kleinsus Antjie het tot nommer 99 geslaap. Sy hou van lang middagslapies. Ma tel haar op die bed, want sy eet nie soos ‘n hond van die vloer af nie en ook nie uit ‘n bak uit nie.

Na aandete neem sy gewoonlik haar aandslapie op my bed totdat sy weer honger word om 20:00.

Probleem is my bed is besaai van werksnotas, my skootrekenaar en alles wat daarmee gepaard gaan.

Ek tel haar op. Sy is ontevrede. Vee haar neus aan die kussing af. Trap ‘n slag op my selfoon. Rol gevaarlik naby aan my skootrekenaar.

Die kyke wat ek kry sê duidelik sy is nie tevrede met haar grootste onderdaan nie. “Gaan lê by Ouma,” gee ek raad, maar ek kry nog ‘n vuiler kyk.

Sy wip haar alie en gaan lê met haar rug na my toe. Ek kry nie eens ‘n soen nie. Is ok, netnou is sy weer lus vir haar 20:00-etsie en dan koop ek haar om met fyngesnyde droëwors. Sela!

 
Back to top button