Ek sê maar net… Vriende oor dekades heen
RUBRIEK - Vriende, van skoolpêlle tot by koshuisvrinne, party ontgroei mens langs die pad, maar dan is daar die wat selfs oor 'n afstand altyd daar is.
RUBRIEK – Onthou ek in die week een van my koshuisvriendinne verjaar. Ek trek selfoon nader om vir haar ‘n stemboodskap te stuur.
Skielik tref dit my. Ons ken mekaar al baie lank. Presies hoe lank laat my na my asem snak. Ek verifieer my eie rekeningkunde op die selfoon se sakrekenaar.
Die getal bly dieselfde. Dis 35 jaar. Ons het 35 jaar terug in ons rooi rompe en wit hemde as dore voor Karlien koshuis op die PUK gestaan.
Ek stuur vir haar ‘n boodskap en net daarna een vir my ou kamermaat. “Ja”, boodskap sy terug vanuit Nederland, “ek het net Sondag gedink aan al ons kampe en hoe ons vir almal moes kook. Waaroor het al die kampe gegaan?”
Op kampe het ons baie gegaan. Meeste het iets met die kerk te doen gehad. Van kerkraad tot by Gaudium. Gaudium was ‘n sang en drama groep wat by weermagkampe gaan sing het.
Na al die jare kan ek nie meer onthou hoekom ons dit as noodsaaklik gesien het om kort-kort met ‘n slaapsak en kussing onder een arm en eetgerei sakkie onder die ander vir ‘n naweek op ‘n kampterrein te gaan sit nie.
Ons het. Dit was lekker, die vervelige vergaderings en lesings op sulke kampe ten spyt. Ek onthou een jaar het ek, Lemoen, Annelize en Cecilia op ‘n kamp gekook vir ‘n klomp studente wat op pad was Kenia toe vir sendingwerk.
Half gevaarlik dat hulle ons vier in die kombuis losgelaat het. Nie een van ons het die nodige opleiding of ondervinding gehad nie, maar wonderbaarlik het die 40 manne en ds. Nico genoeg kos gekry.
Sal maar nie uitwei oor wie eetsakkies weggesteek, bagasie omgeruil het en ENO’s met die suiker gemeng het nie. Was alles deel van die pret.
Nou is dit 35 jaar later. Eertydse dore het seniors geword, gegradueer en die wêreld daar buite aangedurf.
Dink nie die lewe het vir enige een van ons uitgedraai soos wat ons op die PUK gedink het dit sou nie.
Soos die lewe is was daar vir almal maar baie struikelblokke, kromdraaie en slaggate in die pad.
Tog is dit lekker om te weet dat na al die jare daar steeds ‘n handvol oud-Pukke, van Namibië en Nederland tot in KZN en die Weskus is wat deur elke seisoen van lag en huil net ‘n oproep ver bly.
