Ek sê maar net… Sjarmante hartedief op 11
RUBRIEK - Dié 11-jarige weet wat hy in die lewe wil hê en hoe om daar uit te kom, al moes hy van sy "woordsomme" geduldig aan die joernalis-tannie verduidelik.

RUBRIEK – Hy sit regop agter die tafel, nie ‘n haar uit plek nie. Akademiese balkies op sy skoolbaadjie. Groet vriendelik.
Vra hoe dit gaan. Vertel my hy is deel van die skool se padpatrollie. Sy naam is Rocco. Die gedagte was dat ek met hom oor sy MotoCross ryery moet gesels.
“Wat is MotoCross?” hou ek my dom. Al wat die jongman nodig gehad het. Dis asof daar ‘n vlam in hom aangesteek word.
“Motorfietsresies tannie.” Hy val weg en vertel. Van hoe hy nog altyd ‘n motorfiets wou hê. So ‘n paar jaar gelede ontdek hy ‘n kompetisie by een van die groot winkels.
Koop twee brode en staan die kans om ‘n motorfiets te wen. Hy het sy ma maak twee brode koop elke dag vir weke aaneen. Hulle het naderhand die brood onder die motorwagte en straathoekbedelaars uitgedeel.
Sy plan het gewerk. Sy motorfiets het hy gewen. Maar die was glo binne ‘n week te stadig vir hom…
Teen die tyd wat Rocco onthou om asem te skep en ‘n sluk koeldrank te neem lag ek steeds oor die baie brood wat hulle gekoop het.
Ek por hom bietjie oor die skool. Hy is in graad 6 vertel hy my. Wil graag prefek word, maar dis eers volgende jaar. Sy akademie gaan goed aan, die dat hy die balkies het.
Dan onthou hy skielik nuus wat hy sy ma moet vertel. “Ek het 15 uit 15 gekry vir die toets,” vertel hy trots. “Vir watter vak?” vra ek. “Wiskunde.”
Sy oë blink. Hy hou van wiskunde. Wiskunde maak my senuweeagtig en ek stuur terug na die motorfietse toe.
“Het jy ‘n bynaam waaronder jy ry?” “Sy nommer is 413,” antwoord sy ma.
“Ek hou van vier. Drie plus een is ook vier. Vier plus vier is agt,” hy kyk my vol verwagting aan.
Dit klink vir my na ‘n woordsom en ek raak benoud. Hy sien ek verstaan nie.
“Agt tannie, is twee keer vier. 413 is ook my vers in die Bybel.” Hy rits die vers sommer in Ingels af.
Die keer is ek darem by. “Ahh, Fil. 4:13.” My aansien klim.
Ons moet foto’s neem. Hy en sy ma skuif reg en hy glimlag breed. Ek neem die foto.
“Hou tannie van my dimple?” vang hy my weer onkant. “Ja, ek sien jy gaan nog baie harte breek.”
“Ek het al,” en hy lag lekker omdat sy ma frons. Dit was nie sy skuld nie. Al waarvoor hy omgee is om motorfiets te ry en eendag wil hy sy eie motorfiets ontwerp, bou en regmaak.