Verdriet én troos na geliefde pa se heengaan
Wyle mnr. Mike Dorfling word nie net onthou vir sy groentetuine en vrugteboorde nie, maar veral ook vir sy diensbaarheid aan Jesus, en die "tuine" wat hy in mense se harte gemaak het.
VEREENIGING. – “Ons is in diepe rou en ons harte is stukkend, maar Dadda se groentetuine en vrugtebome is ‘n nalatenskap wat ons nog lank sal kan koester as kosbare herinneringe.” Só sê wyle mnr. Mike Dorfling (68) se familie nadat hy verlede maand aan hartversaking oorlede is.
Mnr. Dorfling, of Dadda soos sy kinders hom genoem het, was bekend vir sy “groen vingers” en die pragtige tuine wat hy die afgelope 22 jaar op hul hoewe in Helenasrus aangelê het.
“Hy het enige groente, bome en struike waaraan ‘n mens kan dink, geplant en laat groei… piesangbome, avokado’s, vye-, suurlemoen- en perskebome. In sy groentetuine het die pampoene, aartappels, miniatuurtamaties, wortels, radyse, rissies, groenbone en vele meer welig gegroei. Ek sien hom nog in my gedagtes, hoed op die kop, besig om met sy kierie gaatjies te maak vir nuwe saadjies,” sê sy dogter, Valmarie.
Dit was egter die spreekwoordelike tuine wat hy in mense se harte gemaak het, wat veral onthou gaan word. “Dadda was ‘n ware Jesus-kind wat die grootste deel van sy dae en selfs nagte gebruik het om mense te bemoedig en van Jesus se liefde te vertel. Sy ‘Jesus-werkies’, soos hy dit genoem het, was baie, baie belangriker vir hom as sy tuine en sy bokke…. Hy het ‘n groot verskil in baie mense se lewens gemaak. Hy was ‘n Warrior of God; ‘n liefdevolle, standvastige man en pa wat altyd daar was as ‘n mens hom nodig gehad het, wat altyd geluister en getroos het,” sê Valmarie.
Mnr. Dorfling is op 4 April rustig tuis in sy bed oorlede, met sy kruisie en salwingsolie langs hom op die bedkassie. “Die vrede en rus op Dadda se gesig was pragtig. Dit het gelyk of hy net lekker slaap. Dit troos, maar ons mis sy teenwoordigheid verskriklik,” sê sy.
Hy word buiten Valmarie oorleef deur sy vrou, Valerie, met wie hy ‘n rotsvaste huwelik van 48 jaar gehad het, drie seuns, Johan, Charles en Christo, sy skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders.
Hier onder is ‘n paar foto’s van mnr. Dorfling se tuine waar die plante altyd welig gegroei het. Die stille nalatenskap van ‘n man, pa en oupa wat met diepe hartseer deur sy gesin gemis word.






