Mev. Vaalweekblad sê ‘finaal’ totsiens
Vaalweekblad en Retha Fitchat was vir meer as vier dekades sinoniem met mekaar, maar die tyd het aangebreek vir haar om 'n welverdiende aftrede tegemoet te gaan.
VAALWEEKBLAD – Hoe groet mens ‘n kollega wat lank voor enige van die ander MooiVaal-personeel al deel van die Vaalweekblad was? Vier-en-veertig jaar om presies te wees.

Dis hoe lank Retha Fitchat deel van die Vaalweekblad se lief en leed was. Eers as joernalis, later as redakteur van die koerant tot 2020 en tot onlangs nog die Facebook-valkoog, aanlyn advertensie maestro en die een wie se stories nog gereeld in die koerant verskyn het.
Sy het al eintlik in 2020 afgetree, soortvan, maar was sedertdien steeds deel van MooiVaal Media. Steeds die een wie almal gevra het as ‘n storie in ‘n tameletjie wou ontaard, of tyd te min en artikels te veel geword het.
Dié keer het sy voet neergesit. Sy tree nou regtig uit. Dis tyd om meer tyd saam met haar kinders, eintlik eerder die kleinkinders, te geniet.
Tydens ‘n afskeidgeselligheid onlangs, het MooiVaal Media se bestuurder, Thys Foord, gesê hy was op ‘n stadium oortuig dat Retha 24 uur per dag werk, want sy het net nooit opgehou nie.
Hy het die spesiale boeke wat Retha vir onder andere die Vaalweekblad se 55ste bestaansjaar saamgestel het, uitgelig as deel van die ryke erfenis wat sy nalaat.
Van redaksie se kant af het die joernaliste met die huidige senior redakteur van die Vaalweekblad, Elsje Vermeulen, saamgestem toe sy vir Retha gesê het: “Jy was ‘n inspirasie vir ons almal en ons het almal by jou geleer.
“Toe ek in 1989 as ‘n jong sportjoernalis by Vaalweekblad begin werk het, was Retha reeds hier. Ek het haar opgesom as stil en beskeie, maar die raakvatter as dit by harde nuus en voorbladberigte gekom het,” onthou Elsje (wat naas Retha die tweede meeste diensjare by Vaalweekblad het).
“Ons het die laaste 10 jaar sy-aan-sy gewerk. Sy as redakteur en ek as nuusredakteur. Iets waarvoor ek baie dankbaar is, want ek het baie by Retha geleer, en kon danksy daardie kennis as redakteur die leisels oorneem,” sê Elsje.
“Ek wil byvoeg dat Retha inderdaad meer as net ‘n kollega is, sy is ‘n een-uit’n-miljoen-mens wat ek met trots ook ‘n vriendin kan noem.”
Retha het op haar beurt gesê sy sal altyd die lekker tye, maar ook die tipiese joernalis stres van spertye onthou.
“Hou aan bou aan hierdie merkwaardige maatskappy van ons,” het sy met ‘n glimlag en ‘n traan in die oog afgesluit.
