Rumatoïede artritis, die seer wat nooit ophou nie
Outo-immuun siektes soos, o.a lupus, veelvuldige sklerose en rumatoïede artritis is monsters wat die lyers na liggaam en siel kan uitput en seermaak. Tog leef die meeste met hoop.
VAALPARK – Charlotte Bresser lag en gesels soos wat sy nog altyd doen. Vrolik en positief. Tog weerkaats chroniese pyn in haar oë. Sy is 35 jaar gelede met rumatoïede artritis (RA) gediagnoseer.
“Die dokters het gesê hulle gee my 15 jaar dan sal ek nie meer kan loop nie. Die genade was groot, ek het 35 jaar gekry,” beduie sy terwyl sy haar rooi mobiele scooter behendig deur die huis stuur.

Na al die jare het Charlotte se rug ingegee. Die x-strale wys hoe die rugstring nie net skeefgetrek het nie, maar ook verkrummel het. Die rug senuwees is oop op vyf plekke.
“My bene makeer niks nie, dis die rug. Ek kan nie meer as twee treë loop of staan nie. Ek is dankbaar vir my scooter,” beduie sy.
Nie dat sy enigsins die lewe nou rustiger vat nie. Die voormalige kunsonderwyseres, dosent, skrywer en kunstenaar gaan volstoom voort.
“Ek glo mens het nie altyd beheer oor wat met jou gebeur nie, maar wel oor hoe jy daarop reageer. My kop moet altyd besig bly, dis hoekom ek steeds kunsklasse aanbied, skilder en betrokke is by die Arts Society.”
RA is ‘n outo-immuun siekte wat hoofsaaklik gewrigte affekteer, maar op Charlotte Bresser bestuur haar mobiele scooter behendig deur die huis. die lang duur ook organe kan aantas.
Volgens edhacare.com kom outo-immuun siektes voor wanneer die liggaam se immuunstelsel sy eie gesonde selle en weefsels verkeerdelik aanval.
Normaalweg beskerm die immuunstelsel ons teen infeksies en siektes. In outo-immuun siektes verwar dit egter die liggaam se eie proteïene vir vreemde indringers, wat lei tot inflammasie en skade.
Veelvuldige sklerose (MS) en lupus is van die siektes wat ook onder outoimmuun geklassifiseer word. Diagnose van ‘n spesifieke siekte word bemoeilik omdat baie van hierdie toestande se simptome oorvleuel.
Outo-immuun siektes is ook onvoorspelbaar. “‘n Mens kan vir lank goed voel en dan is daar skielik weer ‘n oplewing en jy word platgetrek,” sê Charlotte.
Sy is ook met lupus gediagnoseer. Daar is steeds onkunde rakende die verskeie outo-immuun siektes. Lyers vra nie vir simpatie nie, al wat hul vra is dat meer mense hul kennis rondom die siektes sal uitbrei sodat hul beter kan verstaan.
Dis die ongevraagde kommentaar en ‘advies’ soos, ‘eet net gesonder’, ‘doen meer oefening’, ‘probeer hierdie of daardie natuurlike produkte’ en die kersie op die koek, ‘maar jy lyk dan nie of jy siek is nie’, wat hul teen die mure uitdryf.
Kennis is mag en in die geval van siektes soos lupus, MS en RA is dit juis kennis en bewusmaking wat die lyers die meeste help om elke dag aan te gaan, soms met ‘n lag en soms met ‘n verskuilde traan.
