Bek-en-klouseersiektebeheer by ‘n kruispad
Een van die groot voerkraalgroepe in Suid-Afrika, Karan Beef (net buite die Vaal in Heidelberg), het sy voorsieners verlede week laat weet dat hulle 'n tydelike moratorium op aankope instel nadat bek-en-klouseer by 'n voerkraal bespeur is.

“Hierdie verwikkeling skep ‘n krisis vir die hele rooivleisbedryf in SA, selfs die hele suidelike Afrika,” het Dr. Wynand Boshoff (VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Landbou) in ‘n mediaverklaring gesê.
Groot voerkraalondernemings koop speenkalwers regoor Suid-Afrika aan en maak hulle dan markgereed.
Die gebruik van gesofistikeerde tegnologie maak die naspeurbaarheid van vee moontlik. Terselfdertyd beteken dit dat aansteeklike veesiektes van regoor die land by ‘n klein aantal aanlegte bymekaar kan kom.
“Dit vererger die impak van ‘n siektevoorval, selfs in veraf dele van die land,” sê Boshoff.
Dit word uitgewys dat hoewel die soort bek-en-klouseer wat in Suider-Afrika voorkom nie dodelik is nie, is die siekte in die noordelike halfrond uiters gevaarlik en potensieel vernietigend vir die rooivleisbedryf. Daarom word uiters streng opgetree om te keer dat die siekte oor grense kom.
“Juis daarom het China sy grense verlede maand vir Suid-Afrikaanse beesvleis gesluit. Die VF Plus het in daardie stadium daarop gewys dat ‘n krisis in die noorde van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap in ‘n nasionale krisis ontaard het.
“Met die mees onlangse verwikkeling het die krisis aansienlik verdiep. Indien ‘n groot aankoper soos Karan ophou om vee aan te koop, ontwrig dit die hele bedryf. Dit sal vleispryse afdwing en boere dwing om beeste op die plaas te hou, juis wanneer weiding in die wintermaande agteruitgaan,” voer Boshoff verder aan.
Vir bestaansboere kan dit erge ontbering veroorsaak, omdat hulle oor die algemeen vee in klein getalle verkoop, soos hulle kontant benodig.
“Suid-Afrika het dekades lank bek-en-klouseervrye status gehad. Onderstepoort het entstowwe doeltreffend en koste-effektief voorsien en staatsveeartsenydienste het regoor die land kennis van elke beeskudde gedra. Doeltreffende grensbeheer was ook belangrik om te keer dat beeste uit buurlande en buffels die siekte aan beeste oordra. Hierdie funksies het grootliks verval.
“Oor die afgelope vyf jaar was daar altesaam meer as 300 voorvalle van die siekte in Suid-Afrika. Rolspelers in die bedryf het voorstelle gemaak, want volgens hulle is die kennis en tegnologie om die siekte te bestry, beskikbaar.
Die volgende twee tot drie weke sal glo bepalend vir die rooivleisbedryf wees.
