Oupas geniet ‘n Vrydagoggend met skop
Meer as 40 inwoners van Herfsoord, Siësta en die Die Eike het 'n rustige oggend gehad in aanloop tot Vadersdag.
VANDERBIJLPARK – Dit was ‘n gedoente toe ongeveer 40+ manne van Herfsoord, Siesta en die Eike met rooi lipstiffie merke op hul voorhoofde die saal verlaat het. Seker hulle vrouens sou hul die keer vergewe het.

Die manne het die oggend saam met Solidariteit Helpende Hand se Vanderbijlpark-tak en AVBOB spandeer om Vadersdag te vier.
Daar wat koekies in die vorm van bierbekers en sterre op die tafels. Miniatuur pakkies met biltong, ‘n glasie sjerrie en tafelversierings in die vorm van sportvelde, ‘n rugbyveld en selfs ‘n gholfbaan het as versierings gedien.
Die vermaak is deur Anza Naudé van Centurion verskaf, wat die manne laat tyd hou het en so hier en daar selfs laat saamsing het.
Sy het onder groot gelag, terwyl sy soos Marilyn Monroe aangetrek was en I wanna be kissed by you gesing het, vir elke man in die saal ‘n paar rooi lippe op hul voorkoppe gelaat.
Na haar vrolike vertoning is die manne verder bederf met sjokoladekoek en ‘n vleisrolletjie.
