Jong Valie deel van Amerikaanse televisie advertensie
Lekker om in Graad 5 te wees en 'n paar dae op 'n filmstel deur te bring, en dit nogal 'n internasionale een
SASOLBURG – Sy word 11 in Oktober en is tans ‘n graad vyf-leerder by Noordskool Primêr. Al geniet Kayleigh van Niekerk veral Engels en Natuurwetenskappe, en al doen sy netbal, hokkie en landloop vir haar skool, is dit nie heeltemal waar haar passie lê nie.

Sy hou van dans en tot verlede jaar was sy nog deel van haar ma se modelskool. Sy was selfs tot Little Miss Sedibeng 2024 gekroon.
Dis alles goed en wel, maar niks kom by die opwinding van om op ‘n televisiestel te wees nie. Sy het in 2021 haar eerste rol losgeslaan in 7de Laan, waar sy ‘n vuil dogtertjie gespeel het wat iemand anders se lipstiffie aansit en dan met die vrou se te groot hakskoene uitgeloop het.
Al wat sy eintlik van die gedoente kan onthou, was dat sy koud gekry het, want “hulle het my met modder gesmeer.” Later was sy ‘n agtergrondkarakter in Diepe Waters en ook in ‘n kykNET kortfilm, Harmonie in kleur.
“Ek moes op ‘n kombers sit en inkleur en ‘n man met earphones het verby my geloop. Hy het seker verkeerd geloop, want ons moes dit oor en oor en oor doen,” lag sy.
Haar grootste televisie avontuur het so ‘n paar weke gelede plaasgevind. ‘n Amerikaanse filmspan het ‘n advertensie in Johannesburg kom skiet.

Sy mag nog nie sê wat is geadverteer nie, maar wel dat sy ‘n Girl Scout was en dat hul baie moes hardloop. “Elke keer was die hotel vol en dan hardloop ‘n klomp mense om plek in die volgende hotel te kry,” beduie sy.
“Hulle het ‘n paar van ons laat praat ook en dit opgeneem, maar ons sal eers later hoor of ek die praatrol gekry het as hulle klaar is met die advertensie.”
Sy hoop daar kom nog rolle na haar kant toe, maar vir eers moet sy op die eksamen konsentreer en volgende kwartaal wag die kunstefees waar sy Afrikaans en Engelse gedigte gaan opvoer en aan redenaars gaan deelneem.
