Saunders-familie soek steeds antwoorde
Gebrek aan terugvoering maak familie onrustig
VANDERBIJLPARK – Die familie van die afgestorwe Vilano Saunders is bitter teleurgesteld oor die gebrek aan terugvoering wat hulle kry oor die ondersoek insake sy dood.
Saunders (20) is verlede maand in die Sebokenghospitaal oorlede nadat hy sy nek noodlottig in ‘n rugbywedstryd tussen NWU Vaal en Springs gebreek het.
Die voorval word tans deur die Valke-rugbyunie (VRU) ondersoek. “Ons is baie teleurgesteld dat ons nie op hoogte gehou word nie.
Ek het Ettienne de Lange (hoof uitvoerende beampte van die Valke Rugbyunie) gekontak en hy het my verseker dat hulle vandeesweek onderhoude met NWU Vaal se afrigters gaan hê,” het Hennie Venter, die woordvoerder van die familie gesê.

Sauders wat 1.88m lank in sy sokkies gestaan het en die skaal op 104 kg vasgetrap het, het die grootste gedeelte van sy rugbyloopbaan as losvoorspeler uitgedraf, maar is in 2024 weens ‘n tekort aan voorrymanne nou en dan op stut ingespan. Volgens sy familie het hy nog nooit op haker gesak nie.
Hy het teen Springs vir die eerste keer op haker gespeel en het in die eerste skrum sy nek gebreek toe die skrum getuimel het.
Saunders het aan familielede vertel dat hy ‘n klapgeluid gehoor het en toe van sy nek af ondertoe niks kon voel nie.
Volgens Richard Louw, afrigter van Springs se o21-rugbyspan, het hy voor die betrokke kragmeting vir onbetwiste skrums gevra, maar dat dit van die hand gewys is.
In ‘n onbetwiste skrum ding spelers nie fisiek om die bal mee nie, wat die risiko vir beserings verminder. Louw wat ook by was toe Saunders op die veld gestabiliseer is, het na die voorval uitgevaar oor die swak behandeling wat Saunders op die veld ontvang het.
“Die Valke het my gekontak vir ‘n onderhoud, maar nooit opgedaag nie,” het Louw vandeesweek te kenne gegee.
Volgens Louw het hy vandeesweek weer na die VRU uitgereik. Vaalweekblad het ook ‘n e-pos na die Valke se hoof uitvoerende beampte gestuur, maar geen terugvoering teen druktyd ontvang nie.
Hoewel Saunders aanvanlik gestabiliseer is en by die Midvaal-hospitaal ‘n skandering ondergaan het om die omvang sy besering te bepaal, is hy na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas omdat hy nie oor ‘n mediese fonds beskik het nie.
Volgens Venter-hulle het hy ook swak mediese behandeling by Sebokenghospitaal ontvang. Na wat verneem word is die verslag van die nadoodse ondersoek ook nog nie beskikbaar nie. Vaalweekblad het verskeie navrae aan die Sebokenghospitaal se woordvoerder, Lerato Sedulawesi, gerig.
Daar is tot op hede geen verklaring uitgereik oor die bewerings wat teen die hospitaal en personeel gemaak is nie.
