Micaela weet hoe om met grimering te toor
Sy weet hoe om met grimering te toor. Onder haar hande kan sy met poeierkwas, onderlaag en kleur elke effek van monster tot feetjie skep. Ontmoet Micaela Benn.
VANDERBILJPARK – Micaela Benn het op skool gedroom om ‘n paramedikus te word. Haar pa, Ivan, het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Hy het gereken die werk is te gevaarlik.
Vandag werk sy vir Dr. Werner Knoesen en sê ten minste kry sy darem nog kans om so bietjie bloed te sien, inspuitings te gee en verbande om wonde te draai. Haar werk is nie haar enigste passie nie.

Sy het ook van skooldae ‘n liefde ontwikkel om grimering te doen. Nie net vir haarself nie, maar ook vir haar vriendinne. Sy het kleintyd gedans, maar dis die grimeerkuns wat gewen het.
Behalwe dat sy basiese grimering kan doen vir dag en aand funksies, spesialiseer sy ook in troues, matriekafskeid geleenthede en in spesiale effekte.
Micaela het in 2017 nog geswot toe sy met die louere as Face of MUD 2017 weggestap het. Sy geniet om haar talente met ander te deel en is juis besig om ‘n oggend te reël waar Brenda Botha ‘n grimeringwerkswinkel sal aanbied.
Die besonderse oggend vind op 5 Julie om 09:00 plaas by Sovann Beauty @B-Spoilt in Vanderbijlpark. Kontak 063 797 6740 vir meer besonderhede.

Alhoewel Micaela voltyds werk en haar naweke redelik ingesluk word deur grimering vir troues te doen, is sy ook voltyds ma vir Kian (3) en drie worshonde.
Intussen spandeer sy en haar verloofde tyd in die gym, want op 18 April 2026 gaan hulle die knoop deurhak. Sy moet nog net vir pa Ivan oortuig dat In the Jungle nie so lekker gaan werk vir hul pa en dogter dans nie.
