Local newsNewsNews

‘n Volk se onblusbare gees herdenk

VEREENIGING - Konsentrasiekampdag is op 16 Junie reg oor Suid-Afrika herdenk met talle seremonies en byeenkomste wat die pyn en opoffering van duisende vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog in herinnering geroep het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) was saam met verskeie kultuurnetwerke en organisasies betrokke by herdenkingsgeleenthede in Vereeniging, Burgershoop, Kimberley en Irene. Daar was ook herdenkings by Vyfhoek, Nylstroom en Turffontein.

By die Vryheidsmonument in Vereeniging het die dag begin met ’n vlagsere­monie gelei deur Die Voortrekkers.

Pastoor Pieter Kriel het die verrigtinge geopen met ’n boodskap van hoop en geloof, waarna Gys Ströh as hoofspreker die geskiedenis van die konsentrasiekampe en hul impak op die Afrikanervolk uitgelig het.

Die kinders van Chalkboard Champs, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, het die erns van die dag met hul teenwoordigheid beklemtoon.

Konsentrasiekampdag is in Vereeniging met ‘n seremonies herdenk.

Die dag is afgesluit met die sing van “Die Stem” as gebed, gevolg deur ’n volkspele-optrede van Vaalrivier Laer en ’n gemeenskapsbraai.

Jan-Danie Malan, FAK-kultuurnetwerkkoördineerder in die sentrale dele van die land, het die belangrikheid van onthou beklemtoon:

“Om hier saam te staan, is nie net ’n daad van herinnering nie, maar van verantwoordelikheid. Hierdie dag herinner ons daaraan dat vryheid ’n duur prys het, een wat ons nooit mag vergeet nie.”

Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, het die dag soos volg opgesom:

“Ons herdenk nie net die dood van duisende nie, maar die lewe van ’n volk wat ondanks pyn steeds gekies het om te bou. Elke krans wat gelê is, elke gebed wat gebid is en elke storie wat vertel is, is ’n getuienis van ’n volk se onblusbare gees.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button