Local newsNewsNews

Valie laat Massyn se storie voortleef

Vang Comrades-reis vir ewig vas met ink en papier

Louis Massyn in aksie tydens vanjaar se Comrades.

VANDERBIJLPARK – Toe Louis Massyn in 2019 sy 47ste Comrades voltooi en by ’n preComrades klubgeleentheid sy ervarings met ’n groep hardlopers deel, het iets in Francois van Zyl gekliek.

’n Skrywer met ’n liefde vir menslike verhale het daar en dan besef Massyn se lewensreis is méér as net statistiek. Dit is ’n storie van uithouvermoë, nederigheid en onwrikbare passie wat op papier verewig móét word.

Nou, na bykans vyf jaar se werk, sien 403 The Louis Massyn Story in Oktober vanjaar die lig. Massyn (74) het op 7 Junie die eerste atleet in die geskiedenis geword om 50 Comrades-marathons te voltooi en het slegs 10 minute voor die finale afsnytyd met sy permanente wedloopnommer wat op sy bors pryk oor die wenstreep gedraf.

“Ek was nog altyd lief vir outobiografië,” vertel Francois. “Mense se stories het my nog altyd aangegryp. Toe ek Louis hoor praat en sy passie beleef, het ek geweet hierdie is ’n storie wat vertel móét word.”

Die boek is die vrug van byna vyf jaar se werk – ure se onderhoude, klankopnames en talle reise na Odendaalsrus, waar Louis woon. Francois, self ’n marathonatleet, sê sy eie ervaring het hom gehelp om Louis se pad van 50 Comrades-marathons op ’n dieper vlak te verstaan.

“Ek kon myself in sy skoene indink – ek wéét hoe dit voel om teen jou eie liggaam te veg tot by daardie eindstreep.” Francois sê die grootste uitdaging was om die moed bymekaar te skraap om só ’n groot projek aan te pak. “Maar ek het besef – as jy wag vir die perfekte oomblik, gebeur niks. Jy moet jou eie deur bou as geleenthede nie klop nie.”

Na die amptelike bekendstelling sal die boek ook by die Woordfees in Stellenbosch beskikbaar wees, gevolg deur ’n landswye toer by atletiekklubs. Francois sluit af: “Hierdie ervaring het my nie net as skrywer laat groei nie, maar ook as mens. En ek dink dit is wat die beste stories doen – hulle verander jou.”

Francois van Zyl is self ’n man van vele passies as digter, skrywer, fotograaf, musikant én marathonatleet. Hy beskryf homself as ’n kreatiewe gees met ’n liefde vir mense se stories, en ’n kop vol klanke, beelde en woorde wat mekaar voortdurend probeer ontmoet. Hoewel tydsbestuur nie sy sterkpunt is nie, vloei sy kreatiwiteit maklik tussen liedjies, verse en beelde.

Hy word dikwels geïnspireer deur oomblikke wat ander miskyk. Sy gedigte en musiek fokus op liefde, verlies, stryd en oorwinning temas wat ook sentraal staan in Louis se verhaal. Die skryf van 403 was vir hom ’n persoonlike triomf: “Ek het geleer dat as geleentheid nie klop nie, jy jou eie deur moet bou.” Hierdie projek was nie net ’n huldeblyk aan ’n sportlegende nie, maar ook ’n vormingsreis vir Francois self. Een wat sy geloof in menslike deursettingsvermoë bevestig het, en sy plek as storieverteller gevestig het.

Ná die boek se bekendstelling by die Woordfees in Oktober, beplan hy ’n landswye bekendstellingstoer by atletiekklubs en wie weet, dalk is dit net die eerste van vele biografieë wat nog uit sy pen sal vloei. Vir jong skrywers het Francois eenvoudige, maar kragtige raad: “Moet nooit bang wees om jou pen aan iets nuuts te probeer nie. Jy mag dalk net jouself verbaas.”

Vinnige feite oor Massyn se liefdesverhouding met die Comrades-marathon: Persoonlike beste tyd in 1981: 6 uur en 25 minute Silwermedaljes: 10 Comrades-marathon ure: 450 ure (19 dae, ses ure en 14 sekondes).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button