Local newsNewsNews

Eers platgeslaan deur die lewe, nou bokskampioen

Die 25-jarige Christo Lewis van Vanderbijlpark se pa is op jong ouderdom doodgeskiet, en dit het amper Christo se lewe ook verongeluk.

VANDERBIJLPARK – Met eerste oogopslag lyk hy maar na ‘n skaam en stil ou. ‘n Paar minute later in die gesprek is dit duidelik hy is baie vriendelik en beleefd. Maar as jy na sy lewensverhaal luister kan Christo Lewis (25) opgesom word as ‘n jong man met deursettingsvermoë en ‘n bokskampioen in wording.

Christo is reeds die Gauteng Amateur-bokskampioen in die Cruiser-divisie (80-85kg), maar sy oë is gerig op die SA-titel in dié gewigklas.

Die kans om sy droom te verwesenlik lê net om die draai, want die SA Amateur Bokskampioenskap vind van 1 tot 6 Julie in Pretoria plaas.

Met al die sukses reeds op sy kerfstok, sal mens dink dat Christo waarskynlik met boks grootgeword het. Maar die antwoord is nee.

Hy het eers twee jaar gelede vir die eerste keer bokshandskoene aangetrek.

“My pa was doodgeskiet toe ek baie jonk was. Ek het die pad byster geraak en met dwelms begin eksperimenteer en dit het my lewe byna verwoes,” vertel Christo.

Christo wat in Nelspruit grootgeword het, is eers daar uit verskeie hoërskole geskors, en sy familie was raadop. Hy het toe by sy grootouers in Vanderbijlpark kom bly, maar ook hier is hy uit ‘n plaaslike hoërskool geskors.

Sy ma het besluit dat hy na ‘n rehabilitasiesentrum vir seuns/jong mans in Vanderbijlpark gestuur word. En dit is hier waar Christo se paaie met die voormalige SA swaargewig boksker, Basil Ray, gekruis het.

Basil was op sy dag die nommer drie SA swaargewig bokser. Hy het na hy sy professionele bokshandskoene opgehang het, ‘n nuwe baadjie as boksafrigter aangetrek. Iets waarmee hy reeds die afgelope 15 jaar sukses behaal.

Basil het sowat twee jaar gelede besluit om die Basil Ray Boksklub spesifiek op dieselfde perseel as die rehabilitasiesentrum te open, juis om die seuns/jong mans te help.

Dit was eers net ‘n geslote klub, maar het intussen so gewild geraak dat dit nou oop is vir die publiek. Basil spog reeds met meer as 100 kliënte by die gimnasium.

Basil en sy boksers (waarvan Christo se jonger broer een was) het op ‘n dag aan ‘n White Collar-bokskampioenskap deelgeneem. Christo het daardie dag saam gegaan om sy broer te ondersteun, maar toe begin om Basil by te staan met die boksers.

“Daai dag het iets binne my geclick, en ek het besef ek wil boks,” vertel Christo.

Gauteng Cruiser-divisie amateur bokskampioen, Christo Lewis.

Christo, wat intussen lank reeds gerehabiliteer is en nou op die perseel bly en werksaam is by die sentrum, se lewe het om boks begin draai.

Hy het ‘n natuurlike aanvoeling vir die sport gehad, en dit was nie lank voor sy talent deur Basil raakgesien is nie.

Maar dit was nie maklik nie. Dit het bloed, sweet en baie trane gekos aan die begin.

“Die nodige ondersteuning wat ek van Basil en sy vrou, Eunice, gekry het, het my ongelooflik baie gehelp. Ek het nooit voorheen in myself geglo nie, maar danksy hulle het ek weer ‘n toekoms vir myself gesien,” vertel Christo.

Christo en sy afrigter, Basil Ray, besig met tegniese oefeninge. Foto’s: Elsje Vermeulen

Hy oefen hard, drie keer ‘n dag, want sy uiteindelike mikpunt is om professionele bokser te word.
Elke oggend om 04:00 is hy reeds op die pad om te draf, omstreeks 04:30 begin hy en Basil met tegniese oefeninge, om 06:00 maak hy gereed vir werk tot omstreeks 14:00.

Daarna word daar weer geoefen tot omstreeks 16:00. Tussen 18:00 en 19:00 is Christo en Basil weer besig met tegniese oefeninge. Dié toewydig is sonder twyfel die resep om ‘n kampioen te kweek.

“As ek deur die toue klim is daar ‘n ander switch wat in my aangaan,” beskryf Christo sy geestelike ingesteldheid. Iets wat volgens Basil baie noodsaaklik is vir enige suksesvolle bokser.

“Wat Christo laat uitstaan is sy wonderlike aanpasbaarheid. Mens wys hom een keer iets en hy kan dit daarna doen. Dis ‘n besondere gawe,” meen Basil.

“En dit is hoekom ek glo hy die SA-titel huis toe gaan bring en sy drome as professionele bokser sal verwesenlik,” sluit Basil af.

Die 25-jarige Christo Lewis van Vanderbijlpark.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button