Nuwe hoof en Vaalpark Primêr is sinoniem
Nicol Kriel en Vaalpark Primêr kom al 'n langpad saam en vanaf 1 Julie neem hy ook die leisels as skoolhoof oor.
VAALPARK – As daar nou een mens is wat elke hoekie en draaitjie van Vaalpark Primêr ken, dan is dit hul nuwe skoolhoof, mnr. Nicol Kriel. Sy ouers was albei, vir baie lank onderwysers by die skool.
Dis waar hy grootgeword en skoolgegaan het. Na skool het hy eers by die NWU in Potchefstroom studeer vir twee jaar en sy laaste twee jaar het hy by NWU se Vanderbijlpark kampus gedoen.
Sy eerste twee jaar as onderwyser was ook by Vaalpark Primêr waar hy liggaamsoefeninge vir Graad R tot sewe gegee het. Daarna het die lewe hom wel so ‘n paar draaie laat loop, van die Laeveld tot in die Noord-Kaap.
Deur sy loopbaan het Nicol verskeie vakke aangebied, van kuns vir graad vier-leerders tot by sosiale wetenskap en sy eintlike vak, besigheidstudies by hoërskole.
Stadig maar seker het hy en sy gesin hul weg weer na die Vaaldriehoek gevind. Nicol en sy vrou, Christa, het albei werk by Curro Vanderbijlpark gekry. Sy is vandag nog Graad RR onderwyseres by dié skool.
Nicol, wat erken dat hy baie lief is vir Vaalpark, het in 2022 weer by die laerskool aangesluit as onderwyser. Sy spore lê wyd oor Vaalpark en sy invloed strek veel verder as Vaalpark Primêr.
Hy is ‘n spanbestuurder van Valke Rugby en ook betrokke by krieket in die streek. Wanneer hy nie besig is met skoolbedrywighede nie is hy ‘n buitemens wat dit geniet om vis te vang, gholf te speel en tyd saam met sy twee seuns en vrou deur te bring.
Sy gunsteling vakansieplek bly maar die bosveld, want wat kan nou lekkerder wees as om vuur te maak, om ‘n langtafel te kuier, te braai en rugby te kyk?
Synde dat hy in Vaalpark gebore is ondersteun hy nog al die jare die Cheetahs/Vrystaat al vaar hulle nou se dae nie so watwonders nie.
‘n Mens kan sien hy is tuis by Vaalpark Primêr. “Ek voel bietjie soos die verlore seun in die Bybel. Ek het huis toe gekom,” lag hy.
