Local newsNewsNews

Oud-Valie voltooi die sirkel met ‘n boek

Hendie Grobbelaar mag dalk nou in Gouritsmond bly, maar 'n groot gedeelte van die skrywer se hart het in die Vaaldriehoek agtergebly.

VANDERBIJLPARK – Hendie Grobbelaar se boek Wilde Vere is onlangs vrygestel. Die boek het sy opgedra aan die Vaaldriehoek en die inwoners van Bali.

Die karakters in die boek is kombinasies van mense wat sy deur haar lewe ontmoet het. ‘n Lewe wat grootliks in Vanderbijlpark afgespeel het.

Nadat haar pa by die Spoorweë weg is, het hul gesin ‘n tuiste in Vanderbijlpark gevind waar Hendie in die voormalige Laerskool Historia was en toe vir haar graad agt jaar in Hoërskool Driehoek.

Met Driehoek wat die volgende jaar van hul tydelike geboue na die skoolgronde getrek het wat ons vandag nog as Hoërskool Driehoek ken, moes sy noodgedwonge Hoërskool Vanderbijlpark toe gaan.

Daarna het sy by die voormalige Vaal Pukke studeer en later by ArcelorMittal gewerk.

Op 16 Junie het sy haar boek in Vanderbijlpark bemark met ‘n kuiersessie by Mighty Grow Kwekery se restaurant.

“Ek was nog altyd lief vir lees en stories, maar het nooit gedink ek sou self skryf nie. Ons het in Gouritsmond afgetree en ek het begin kortverhale skryf om myself besig te hou,” vertel sy.

Oor haar eerste korverhaalbundel bloos sy steeds vanweë al die taal- en spelfoute. “Ek het intussen heelwat skryfkursusse gedoen en my volgende twee kortverhaalbundels was beter.”

So wat drie jaar terug is sy Bali toe en daar het die storie van Pop wat so sukkel met haar man, kinders en finansies in die Steel Valley by haar posgevat.

Die boek bevat verskeie temas, maar vir Hendie is dit belangrik dat lesers sal besef die lewe is ‘n reis en almal moet uiteindelik tuis kom. Nie noodwendig by ‘n plek nie, maar met ‘n vrede in jou hart.

Een van die karakters in die boek, is ‘n hoender met die naam Maria Magdalena. Die hoender het al so baie bewonderaars dat sy haar eie Facebookblad het.

Hendie sê sy het haar kort kuier in die Vaaldriehoek geniet. Wilde Vere word uitgegee deur Lapa Uitgewers en is reeds in die meeste groot boekwinkels en aanlyn beskikbaar.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button