Local newsNewsNews

Tiener kap bul van ‘n baber vas in Vaalrivier

Hierdie is 'n storie wat André de Waal (15) nog vir jare sal onthou en oorvertel... Die een van die groot vis wat nie weggekom het nie.

VAALPARK – André de Waal (15) het rede om breëbors rond te loop. Verlede week het die graad nege leerling aan die Hoërskool Driehoek ‘n allemintige baber van 19 kg gevang.

André het saam met sy pa Andrew en vriende by Kaalplaats langs die Vaalrivier gekamp.

André de Waal span al sy kragte in om die 19kg baber onder beheer te hou.

Die oomblik toe sy katrol skreeu en hy kap het hy eers gedink sy lyn sit êrens vas, maar toe die stok begin punt trek water toe het hy geweet daar is ‘n groot ding aan die lyn.

Dit het hom ‘n halfuur geneem om die baber kant toe te bring. Sy pa het intussen ‘n groter skepnet gekry en die baber is uiteindelik uit die water gelig.

‘n Week later skud André steeds kop oor hoe hy dit reggekry het om ‘n amper 42 pond baber met ‘n 10/12 pond vislyn te kon vang. Nadat die vis geweeg is en die nodige foto’s geneem is, is die baber weer vrygelaat.

‘Vang en vrylaat’ is André se motto. Hy is al visvangmal sedert hy vyfjaar oud is en erken dat hy baie erger oor visvang is as sy pa.

Hy het hierdie jaar by die Hap en Kap Hengelklub aangesluit en oefen wanneer hy ook al kans kry. Gelukkig bly die gesin in ‘n kompleks langs die Vaalrivier waar inwoners welkom is om enige tyd te gaan lyn natmaak.

Die baber was die swaarste en grootste vis wat hy tot dusver gevang het, maar hy het ook al ‘n 6kg karp wal toe gebring.

Die baber is amper so lank soos André.

Sy gunsteling aas om te gebruik is knoffel of bloekom floaties. Hy het hoeka die baber met ‘n knoffel floatie gevang.

Alhoewel hy al verskeie kere die geleentheid gehad het om swartbaars te vang, bly die Vaalrivier sy gunsteling rivier om die grotes uit te haal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button