Wanneer jou ginekoloog die grense oorskry
VANDERBIJLPARK - Om ‘n ginekoloog te hê wie jy vertrou is vir elke vrou belangrik. Nie alle vroue het positiewe ervarings wanneer dit by dié belangrike doktersbesoeke kom nie. Lees hier hoe om te identifiseer as ‘n ginekoloog sekere intieme grense oortree.
Gesprekke oor seksuele misbruik in die spreekkamer is nie maklik om te hê nie, maar nodig, omdat dit vroue help om te verstaan wat ander vroue geweet tydens hul afsprake, en wat hulle gewens het hulle geweet het.
Kaptein Lynette du Plessis is lid van die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredingseenheid in Sebokeng.
Sy sê: “Ek dink die meeste vroue wil die ongemaklike besoek by die ginekoloog net agter die rug kry en let nie daarop dat die ondersoek binne perke moet geskied nie.
“‘n Vrou voel klaar verleë maar moet definitief uitkyk vir op- of aanmerkings wat die dokter maak teenoor jou lyf terwyl die ondersoek gedoen word. Dit is heeltemal onvanpas om bv. te meld jy het mooi borste of jy is ‘n mooi vrou terwyl hy die inwendige ondersoek doen.
“Dit is binne jou reg om op enige stadium die ondersoek te stop as jy voel die dokter oorskrei sy professionele perke. As jy voel iets was nie reg nie, of jou dokter het die grense oorskrei en seksueel onvanpas opgetree, moet jy dit aanmeld by ‘n persoon wie jy vertrou.
“Dit is belangrik dat vroue vir mekaar moet opstaan en hande vat om sodoende sulke dokters aan die pen te laat ry.”
Du Plessis sê vroue wat al sulke sake aangemeld het, het genoem dat hulle in die situasie nie seker was wat besig is om te gebeur nie en dat dit belangrik is om te weet waar die professionele grense lê.
Wat is onvanpas in die gynae se spreekkamer?
* Om grappe oor die pasiënt se seksuele oriëntering te maak.
* Flirtasie van enige vorm.
* Om te kyk hoe die pasiënt ontklee.
* Om ‘n intieme ondersoek sonder ‘n geldige mediese rede te doen.
* Om mediese studente uit te nooi om teenwoordig te wees tydens ‘n ondersoek sonder die pasiënt se medewete en toestemming.
* Om oor sy of haar eie seksuele voor-en afkeure te gesels.
* Ongewenste betasting of streling.
* Om die pasiënt te vra om te masturbeer.
Raad van ginekoloog
‘n Ginekoloog wat graag anoniem wil bly, sê as jy enige vrae het of iets “af” voel tydens ‘n ondersoek is dit in die haak om jou dokter te vra om die ondersoek te staak, maak nie saak wat die rede is, of op watter stadium van die ondersoek hy is nie. Wanneer jy twyfel moet jy jou ‘gut feeling’ vertrou.
“As jy ongemaklik voel, moet jy dit ernstig opneem,” sê sy.
