Met groot hartseer neem die Vaaldriehoek en die Suid-Afrikaanse boekewêreld afskeid van Nico Moolman, skrywer, historikus en selferkende kultuurbewaarder van die ou Suid-Afrika wat vandeesweek skielik gesterf het.
Vir baie jare was Nico ’n bekende gesig in Vanderbijlpark, waar hy sy loopbaan by YSCOR begin het en sy verbintenis met die streek diep gewortel het. Sy liefde vir die geskiedenis en sy vermoë om verhale te laat leef, het hom egter landwyd bekend gemaak. Later het hy hom op ’n plaas in die Utrecht-distrik van KwaZulu-Natal gevestig, maar sy bande met die Vaal het altyd sterk gebly.
Nico het sy naam verewig as die stem van die verlede, veral met sy werk oor die Anglo-Boereoorlog het baie aanklank gevind. Hy het ongepubliseerde foto’s opgespoor, versamel en gedigitaliseer, en die mense agter dié beelde weer ’n stem gegee. Sy mees aangrypende werk, The Boer Whore, vertel die ware verhaal van Susan Nell, ’n tienermeisie wat in ’n Britse konsentrasiekamp trauma deurgemaak het, maar later internasionale erkenning verwerf het as een van die eerste vroulike psigiaters.
Hierdie verhaal is ook in Afrikaans bekend as Kamphoer en het verhoog- en filmverwerkings geïnspireer. Met Dankie, Generaal – Op die spoor van ’n oorlogspeurder het hy die publiek bekendgestel aan seldsame glasnegatiewe en intieme oomblikke uit die oorlog, en hy het gewys dat geskiedenis nie net oor datums en veldslae gaan nie, maar oor mense.
Hoewel hy die grimmige erfenis van oorlog vasgelê het, het Nico se pen ook ligter syspore geloop. Boeke soos Kuier in ’n Plaaskombuis, Die Pienk Traaisiekel, Uit Ouma se Uitsetkist en Karrenmelk vir Ta Nonnie het nostalgie, humor en die warmte van Afrikaanse leefkultuur vasgevang. Daarmee het hy bewys dat hy ewe tuis was in die kombuis en in die geskiedenisboeke.
Hy en die bekroonde fotograaf Wessel Oosthuizen het saam Persoonlike vriendskappe: Boere & Russe geskryf en was tans besig om ‘n nuwe versbundel by ZeroPlus in Pretoria te druk.
Vir Nico was kultuurbewaring ’n lewensroeping. Hy het dikwels gesê dat die land se amptelike instellings nie genoeg doen om die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse erfgoed te beskerm nie, en hy het daardie taak self op hom geneem. Sy werk was ’n brug tussen geslagte, ’n herinnering dat die verlede se stories ons toekoms kan verryk.
Met sy heengaan verloor Suid-Afrika nie net ’n geliefde skrywer nie, maar ook ’n beskermheer van herinneringe, ’n stem vir die vergete, en ’n storieverteller wat geskiedenis in mense se harte geplant het. Sy nalatenskap leef voort in sy boeke en in die dankbaarheid van almal wat deur sy werk geraak is.
