Het Suzie weer die Bokke gehelp?
Wie sal nou ooit waar die Bokke se hulp vandaan gekom het?
Wat het ‘n opblaaspop, ‘n gevandaliseerde reistas en ‘n Springboktoets in gemeen?
Op die oppervlak miskien niks nie, maar vir diegene wat MooiVaal Media se FCJ-uitstappie Kaap toe mee gemaak het, is daar ‘n dieper betekenis. Terwyl die land se rugby-ondersteuners wonde gelek het na die slagting van Ellispark was alle oë op Wallabies en DHL-stadion gerig.
Met ons aankoms by Lanseria Lughawe het ek tong-in-die-kies opgemerk dat my pienkerige reistas moontlik ongewenste aandag gaan trek.
Vir die eerste keer in my lewe het ek nie ingegee om ‘n nuwe tas aan te skaf nie. Ek is mos gemaklik met my manlikheid. ‘n Pienkerige tassie wat ek by oudste spruit vir mahala kan leen, is mos die spaarsamige en verantwoordelike ding om te doen. Yeah right! Min het ek geweet dat hierdie netelige besluit verreikende gevolge sou hê.
Met ons aankoms aan die suidste punt van Afrika, was daar ‘n lied in ons harte. Sonskynweer en sagte landing het ons begroet, maar dit was alles misleidend.
Terwyl my kollegas een na die ander hulle tassie van die bagasie-carousel afgehaal het, het hulle nadergestaan om my ‘n harde tyd oor my tassie te gee! Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, maak my tassie soos ‘n seerduim sy voorskyn.
Gehawend en stukkend. Iewers tussen Lanseria en Kaapstad Internasionale Lughawe wou dit voorkom asof ‘n hamergooier die tassie aan sy handvatsel beetgekry en sy persoonlike beste afstand probeer verbeter het. Nadat ek die skade aangemeld het. ‘n Kiekie of twee as bewys geneem het, het ons Stellenbosch toe vertrek.
My siek sin vir humor kry toe weer die beste van my. Ek spot met my kollegas dat ek die gesigte van die lughawepersoneel wil sien as ek aanmeld dat my geliefde opblaaspop, Suzie, uit my tas verdwyn het. Almal het geskatterlag, self die bestuurder van die bussie wat sy beste probeer het om professioneel te wees het saggies geproes vir die simpel Gautengers.
Wat die toekenningsaand betref het Mooivaal se joernaliste amok gemaak. Die volgende dag het ons bietjie Stellenbosch gaan besigtig waarna ons om 15:00 weer van Kaapstad na Johannesburg vertrek het. Daar was ‘n lewendige debat of ek my tassie moes laat wrap of nie, maar ek het daarteen besluit. Dinge kan tog nie erger raak nie of kan dit?
Met ons aankoms op Lanseria was dit weer ‘n gevoel van Deja Vu. Almal raak geholpe en Kiepie wag vir sy tas. ‘n Tas wat nie eers op die carousel kon gaan. Eenkant aan die verste punt van die terminaal staan ‘n werker met ‘n onheilspellende glimlag op sy bakkies. Langs hom is ‘n pienkerige hoop. Die wiele van die tassie is morsaf gebreek.
Die slotjie hang aan die kant en my kollegas proes-proes terwyl ek die tas met moonboot en al agter my aansleep soos ‘n hofnar. Op die bussie begin ons die Bok game op my foon te stream. Ek spot dat Suzie wat in 1995 die All Blacks voor die eindstryd “vergiftig” het, nie ‘n match is vir my Suzie nie en dat sy in alle waarskynlikheid uit my tas ontsnap het om die Aussies voor die belangrikste toets te teister.
Dit was ‘n naelbyt-affêre maar die manne in Groen en Goud het met 30-22 geseëvier. Ek het wel ‘n tas verloor maar Springboksege is belangriker. Al mis ek vir Suzie vreeslik is sy opgeoffer vir goeie doel. Nudge, nudge, wink, win
