RUBRIEK – Soms skok jou lewe in ‘n oomblik tot stilstand. Die een oomblik is alles nog normaal en die volgende sit jy voor ICU deure en wag vir besoektyd.
Ek weet dis eintlik intensiewe sorgeenheid in Afrikaans, maar die bordjie wys altyd ICU. Ek is in my lewe nou al twee maal deur die oefening.
In 2008 toe my man in ICU beland het, het ek elke dag van vroeg oggend gaan sit en staar na die deur. Al het ek goed geweet, ek word net toegelaat op sekere tye.
Ek en Pa het saamgesit en wag. Tot die dag wat hul die masjiene afgeskakel het. Ek onthou die waas wat oor my brein gesak het.
Asof ek alles deur ‘n venster aanskou het. Onthou hoe verbaas ek was dat die wêreld in die tyd aanhou draai het. Die lewe aangegaan het, terwyl my wêreld in duie gestort het.
September was dit weer so. Die keer het Ma in ICU beland. Weer het dit gevoel my wêreld ruk tot stilstand en bestaan skielik net uit hospitaalbesoeke.
Een van die ander pasiënte se mense het dit ook genoem. Hoe alles net tot stilstand kom en die fokus op hospitaal toe en terug geskuif het.
Die ding is net met ICU gebeur dit min dat pasiënte beter word. Ek het dag vir dag gesien hoe Ma agteruitgaan. Sieker en sieker word.
Totdat die oproep uiteindelik teen die end van die maand in die vroeë oggendure gekom het. Dit was nie meer nodig om hospitaal toe te ry nie.
Weer het die waas oor my brein gesak. Is dit asof ek alles van ver beskou. Die keer was ek kwaad.
Kwaad omdat die lewe voortgespoed het en my agterweë gelaat het. Kwaad omdat ek nou moet probeer inhaal, maar alles is te vinnig.
Voel asof ek op vol spoed hardloop, maar as ek opkyk blits alles nog steeds voort en is ek ver agter in stadige aksie.
Die wêreld verwag dat jy na die begrafnis weer flink en vrolik moet aangaan. Dit werk nie heeltemal so nie.
Ek onthou Pa, Kittie en Ouma se dood was vinnig. Maar met Ma en Nico is daar die ekstra trauma van lyding gesien. Van magteloos toekyk.
Daarna is daar net die leë moegheid. Psigiese trauma wat jou immuniteit breek. Jou fisies siek laat.
‘n Wêreld wat onverstaanbaar toekyk. ‘n Stryd teen jouself. Gehuil oor Ma kon ek nog nie. Iemand se afsterwe vang my gewoonlik tussen ses maande na ‘n jaar.
Dan sak ek inmekaar. Dan huil ek, maar dan verstaan die wêreld nog minder en raak inhaal onmoontlik… Sela!
