VANDERBIJLPARK – Adri Roux is klein en fyn. ‘n Mens sou verwag sy is ‘n ballerina. Nee, die jongeling van die Laerskool D.F. Malherbe is ‘n skopbokser.
Sy het op vier met die sport begin. “Mamma het gesê ek moet dit doen, sodat ek boelies kan hanteer,” verklaar sy plegtig terwyl sy haar melkskommel drink.
“Ons het destyds besluit sy moet skopboks doen, omdat sy baie skaam was. Sy het altyd agter my bene weggekruip en natuurlik vir selfverdediging,” beduie haar ma, Brumilda Ferreira.

Nooit het hulle gedink die sport sou so ‘n groot verandering in Adri se lewe bring nie. Sy het ontpop in ‘n ekstrovert met hope selfvertroue en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit.
In 2024 was sy die Afrika Kampioen in haar ouderdomsgroep en gewigsafdeling en het sy sewende op die wêreldranglys gestaan.
Weens haar ma se swangerskap die jaar, het hulle bietjie teruggehou met die kompetisies, maar Adri oefen steeds volstoom by ‘n klub in Meyerton.

Op 25 Oktober het sy aan die Tiny Titans, Battle in the East in Brakpan deelgeneem. Daar was geen ander deelnemers in haar gewigsklas nie en sy moes toe van o24kg na o27kg opskuif.
Nie dat dit hierdie vegtertjie gekeer het nie, sy het steeds met een goue en twee silwer medaljes huis toe gekom.
Adri is ook reeds gekies vir die Sedibengspan wat vroeg volgende jaar gaan deelneem en maak gereed om weer die nasionale kampioenskappe te haal.
Van alles wat te doen het met die sport, hou sy die meeste daarvan om te skop. Sy is baie opgewonde, want op 15 November gaan sy aan haar eerste Young Guns Exhibition Tournament by die Barnyard in Vereeniging deelneem.
“Dit sal die eerste keer wees wat ek in die ring baklei en nie net op ‘n mat nie,” vertel sy opgewonde. Alhoewel sy baie van skopboks hou, is dit nie al sport waaraan sy deelneem nie.
Daar is ook Playball, hokkie en netbal. Haar grootste droom is om eendag ‘n Springbok te word in die vroue rugbyspan.
Van rugby hou sy sommer baie en haar drie grootste Springbokhelde is die kaptein Siya Kolisi, losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu en skrumskakel Faf de Klerk.
