‘MS is ‘n lewensvonnis, nie doodsvonnis nie’
MS. Een van daardie verniel siektes wat min mense verstaan. Daar is lyers wat geleer het om elke dag voluit aan te pak. Soos Jannie Viviers.
VAALPARK – Jannie Viviers laat hom nie onderkry nie. Hy is in Februarie 2023 met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer. Al kan hy nie meer alles doen wat hy gedoen het nie, het hy aangepas en gaan hy voluit voort.
“Ek was altyd baie sportief en kon nooit stilsit nie, maar nou se dae moet ek dit rustiger vat. Die MS put my ongelooflik uit en in die middae het ek geen energie nie,” verduidelik hy.
Jannie werk steeds voltyds as korrektiewe beampte en verkies die baie vroeë skof sodat hy in die middae kan rus. Soos baie ander, het hy lank gesukkel voordat hy met MS gediagnoseer is.
“Ek het lank terug al agtergekom my linkerkant is nie lekker nie, maar het my eers nie daaraan gesteur nie.”
Dit was totdat sy pa eendag agter hom geloop het en gesê het dit lyk asof Jannie se linkerbeen uit sy heup draai as hy loop. Sy vrou, Suné, sê sy kon in sy spraak ook hoor dat daar fout is.
Jannie is dokter toe en is uiteindelik na ‘n internis verwys wat hom na ‘n neuroloog gestuur het. ‘n MR-skandering en ‘n lumbale punksie (lumbar puncture) het die dokter se vermoede bevestig. Dis MS.
“MS was vir my onbekend. Gelukkig het ek Rozaan Steyn van MS Hoop ontmoet omtrent ‘n maand na my diagnose. Die MS Warriors het soos familie geword. Ek behoort ook aan verskeie groepe wêreldwyd waar die lyers mekaar raad gee en ondersteun,” vertel Jannie.
Natuurlik het hy al pretlope saam met die MS Warriors gedoen, gewoonlik met sy Vinnige Frikkie kierie in die hand. Hy het egter verlede jaar besef hy kan nie meer langafstande stap nie, die totale moegheid was net te veel en sy linkervoet het begin sleep.
“Ek het nou ‘n karretjie wat ek stoot en as ek moeg word, het dit ‘n stoeltjie waarop ek eers bietjie kan sit en rus,” lag hy. Sedert sy diagnose was Jannie nog net een keer in die hospitaal opgeneem.
“Ek is dankbaar dat my medikasie werk en dat die MS nou al vir 18 maande onder beheer is,” sê hy. “Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek beskou MS nie as ‘n doodsvonnis nie, maar ‘n lewensvonnis,” verklaar hy.
Jannie kon Desember verlede jaar sy suster en ouers in die Kaap besoek. Alhoewel die busrit uitmergelend was, is hy bly hy het dit gedoen. “Dit was goed om my mense te sien,” beduie hy.
Hy en sy suster is eendag strand toe. Dit was vir hom moeilik om op die los sand sy balans te hou, maar hy het deurgedruk. By die harder, nat sand het dit beter gegaan. Hy het laat sy suster die woorde, MS Hoop, met ‘n stok in die sand skryf.
“Die woorde in die sand het my tevrede laat voel. Ek het gemoedsrus,” glimlag hy breed en sy oë weerspieël die vrede wat in sy hart woon
