Verhuurder skop Emfuleni glo uit oor agterstallige huur
Die verhuurder het die huurkontrak beëindig oor beweerde wanbetaling.

VANDERBIJLPARK. – Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is glo finaal uit die sogenaamde “OK-gebou” in President Paul Krugerstraat geskop nadat die eienaars na bewering die huurkontrak beëindig het weens die munisipaliteit se beweerde onvermoë om huur te betaal.
Die gebou, wat al vir verskeie jare deur die munisipaliteit gehuur word, het onder meer die finansiële afdeling en kliëntedienste gehuisves en staan algemeen onder inwoners bekend as die “OK-gebou”.
Volgens ’n mediaverklaring wat VF Plus-raadslid Gerda Senekal Vrydagmiddag uitgereik het, het die eienaars reeds in Desember verlede jaar aangedui dat die huurkontrak aan die einde van Mei sou verstryk.
Die munisipale bestuurder, April Ntuli, het eers vandeesweek Woensdag werkers opdrag gegee om die gebou teen Vrydag te ontruim.
Die VF Plus beweer egter dat werkers eers vandeesweek opdrag by die munisipale bestuurder April Ntuli gekry het om teen Vrydag die gebou te ontruim.
Die party beweer verder dat die munisipaliteit reeds drie maande gelede besluit het om nie meer die maandelikse huur van sowat R1,4 miljoen te betaal nie en intussen dele van die Absa-gebou in FW Beyersstraat teen ongeveer R1,2 miljoen per maand gehuur het.

Volgens die verklaring was die nuwe perseel teen Vrydag nog nie gereed om die sowat 220 amptenare te huisves nie.
Die “OK-gebou” was die afgelope paar jaar reeds verskeie kere in die nuus weens beweerde agterstallige huur, rioolprobleme en klagtes oor die toestand van die gebou.
Die munisipaliteit was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.

