RUBRIEK – Baba is skaars ‘n dag oud dan begin almal al raai raai riepa te speel na wie baba eintlik lyk. Soos kinders groter word, is dit dikwels ‘n mengsel van: “jy het jou pa se oë, maar jou ore is jou ma sin.”
Dan kry jy ander, soos ek en heelwat van my niggies en neefs. Dag een en ons is verklaar tot Bruinette. Ek het nie my ma se bou, gelaatstrekke of geaardheid nie. Pa se kind.
Soos mens ouer word, heelwat ouer, begin jy besef jy het meer as net geaardheid of dieselfde beenstruktuur geërf. Dis hier duskant 50 wat die skokke skielik kom.
Nou die anderdag smeer ek my bene room. Dink ek het daardie dag my bril opgehad, want toe merk ek wat lyk soos fyn bruin kolletjies wat van my enkels na my kuite strek.
Ek onthou Pa se bene het so gelyk. Maar, hy was ‘n vormgieter en het in die 70’s sy voete met gesmelte staal gebrand. Ek het altyd gedink die merke is maar deel van die letsels.
Dis vir my erg vreemd en ek haas dokter toe. “Spatare,” seg hy. “Ek kan jou na ‘n aar spesialis stuur wat die aar kan brand (of so iets), maar aan die bruin kolletjies kan niks gedoen word nie. Dis in jou gene.”
By die huis stuur ek foto’s en diagnose na my Twin. Hoe het jou pa se bene gelyk? Kort daarna die antwoord. Sy het vir haar ma gestuur en wat Tannie Netta nie van die familie weet nie, is nie werd om te weet nie.
“Ja, dis in jul gene.” Blykbaar het my oom Henry, my tannie Ronnie en my ouma se bene ook so gelyk. Eish… my ouma was ‘n nooi Venter. So, ek lyk en klink soos ‘n Bruinette met tarentaal voete van Ouma se kant af.
So van Oumas gepraat; Ouma aan ma se kant het altyd so gesukkel met haar knieë. Gekla dit word styf. Ma se knieë het haar baie gepla en my nig Bessie sin ook.
In die laaste tyd kom ek agter daar slaat so ‘n pyn deur my linkerknie en soms regs ook as ek te lank sit, staan of bestuur. Dit was eers Saterdag toe ek ‘n onderste rak van ‘n kas wou uitpak wat ek die omvang van die moeilikheid besef het.
Tot onlangs het ek heel gemaklik op die vloer gesit en opgestaan. Maar, die keer. Dit was met die sitslag wat ek my bene wou kruis wat daar nie samewerking was nie.
Ek sit, maar verloor my balans en land op my rug binne die honde se waterbak. En watter stryd om weer op te kom!
Vertel die storie vir ‘n niggie aan ma se kant. “Ja “seg sy, “ons sukkel maar almal met dit. Dis die Dreyer gene.” Ek weet nie watse geite en kwale nog gaan uitspring nie, maar ja, ons sal maar moet wag en kyk. Sela!
