VANDERBIJLPARK – Tydens operasie ingeboude kaste skoonmaak in Desember het ek op die foto afgekom.
Presies wanneer dit geneem is, is ek nie seker nie. Dalk 1977 of 1976. Die waar is maklik. In daardie jare was daar ‘n ysskaatsbaan in Vaalpark, waar The Bar with No Name tans is.
Die tyd sou baie vroeg in die oggend gewees het. Lesse het Saterdaeoggende dou voor dag begin, voordat die skaatsbaan oopgemaak is vir die publiek.
Die groep jong dames op lemme was nog beginners (vlak 1 of dalk vlak 2) met hul instruktrises in die agterste ry.
Tot dusver het die uwe haarself al raakgesien. Moeilik om dit nie te doen nie, ek lyk omtrent dieselfde. Een van my MooiVaal kollegas, Penelope Muller het haarself en haar suster herken en Vanderbijlhoër se voormalige Wetenskaponderwyser, mnr. Michiel van der Walt het sy twee dogters raakgesien.
Herken jy dalk jouself op die foto? Wie anders onthou nog die lekker dae van ysskaats? Die koue lug in die gebou. Die kenmerkende reuk en die musiek (hulle was lief om ABBA in die 70’s te speel) terwyl die skaatse oor die ys gly.
