VANDERBIJLPARK – Met die skoolvakansie so amper op ʼn einde het die Laerskool D.F Malherbe se hoofleiers hul nuwejaarsboodskappe opgeneem en op die skool se Facebookblad geplaas.
Die skool se tema vir die jaar is – die spore wat jy nalaat en dis duidelik dat dié vier nie net in die laerskool spore gaan nalaat nie. Hoofseun Janko de Lange sê 2026 is ʼn jaar van nuwe dinge, uitdagings en avonture. Hoofmeisie Lea Badenhorst reken mens moet dit wat nie gewerk het nie agter jou los.
Lea sê: “Jy kan die wêreld verander, maak nie saak wie jy is, hoe oud jy is of hoe jy lyk nie. Jy is spesiaal en kan ʼn verskil maak net soos jy is.”
Onderhoofmeisie Adelie du Toit stem saam dat elke Januarie ʼn nuwe begin is. “Sien dit as ʼn boek met 365 leë bladsye, waarin jy groot drome kan droom, foute kan maak, hard kan werk, maar ook seën te kan bring vir almal om jou.
“Jy is nooit te oud of te jonk om ʼn nuwe doelwit te stel nie. Glo dat jy kan, dan het jy reeds halfpad gewen.”
Janco van Tonder, onderhoofseun vir 2026, stem saam: “Moenie wag vir geleenthede nie, skep dit. Die geheim om voor te kom, is doodeenvoudig om te begin. Om daardie eerste treetjie te neem. Groot veranderinge begin met ʼn klein treetjie.”
Inderdaad. Groot waarhede gespreek deur dié jongelinge, mag ons dit almal ter harte neem hierdie jaar.
