Wakeboarding in die Vaal – Waar is die kenners?
Hoewel wakeboarding jare gelede een van die gewildste watersporte in Suid-Afrika was, veral hier langs die Vaalrivier, wonder baie mense deesdae waar om aan te klop vir professionele afrigting.
Lizel Roos van Sasolburg het onlangs die gesprek op Vaalweekblad se Facebook-blad aan die gang gesit met ’n navraag oor beskikbare instrukteurs in die Vaaldriehoek.
Wakeboarding is ‘n kombinasie van balans, krag en pure adrenalien.
Dis ’n unieke mengsel van sneeuplankry en waterski en bied ryers die geleentheid om die wateroppervlak as hul speelveld te gebruik vir waaghalsige toertjies (en soms in die lug).
Plaaslike afrigting en opsies
Die reaksie op die navraag het getoon dat die belangstelling steeds groot is, al is inligting oor afrigters effe skaars.
Vir diegene wat hul vaardighede wil opskerp, het die volgende name na vore gekom:
Douw Kruger (Vanderbijlpark): Hy bied afrigtingsessies aan teen R1 300 vir twee uur. Belangstellendes kan hom kontak by 083 7120 805.
Shawn Facio van Tige Boats op die Stokkiesdraaipad is ook aanbeveel (daar was ongelukkig nie ‘n kontaknommer nie).
Vaal Prive Vakansieoord (Deneysville) bied ook die geleentheid om wakeboarding op die oop waters van die Vaaldam te geniet.
Die groter prentjie
Terwyl kusstede soos Kaapstad en Durban bekend is vir boot-gebaseerde wakeboarding in hul baaie, het die binneland sy eie unieke voordeel: kabelparke.
Parke in Johannesburg en Pretoria bied ’n beheerde en bekostigbare omgewing waar beginners makliker kan leer opstaan en gevorderde ryers in ’n lewendige gemeenskapsatmosfeer aan hul toertjies kan skaaf.
Of jy nou agter ’n spogboot op die Vaalrivier wil uithaal en wys, of die sosiale omgewing van ’n kabelpark verkies, wakeboarding bly een van die opwindendste maniere om die Suid-Afrikaanse son en water te geniet.
* Indien daar plaaslike inwoners is wat gevorderde wakeboardryers is, sal ons graag met jul kontak wil maak. Kontak Elsje asb. via epos: Elsje@mooivaal.co.za
