VANDERBIJLPARK – In 2025 het Juan van Zyl sy plek volgestaan as hoofseun van Laerskool Totius. Goed gevaar in akademie en sport. Veral rugby.
Rugby is sy alles en dit was juis deur rugby wat hy verlede jaar in Namibië en Italië kon gaan rugby speel het.

Juan was gekies vir die Rhino Week 0/13 A span wat van 1 – 10 Desember in Italië gaan speel het.
Hy het as flank en agsteman uitgedraf en sê hul span het agt wedstryde gespeel waarvan hul sewe gewen en een verloor het.

Hy het twee drieë gedruk en is in die laaste wedstryd as speler van die wedstryd aangewys.
Behalwe die rugby wat hy baie geniet het, vertel hy ook van al die mooi meisies daar. ʼn Man mag mos darem kyk.
Verder het hulle ook die geleentheid gehad om die Ferrari museum te besoek en het hul baie pizzas en pasta geëet. “Dit was lekker, maar braaivleis is lekkerder,” som hy dit op.

“Dankie vir almal wat dit moontlik gemaak het vir my om op die toere na Namibië en Italië te gaan. Elke donasie het gehelp.”
Juan kan nie stilsit nie en het vlak na hul toer reeds by die Hoërskool Transvalia begin gym en atletiek oefen.
Hy sien baie uit na sy hoërskoolloopbaan wat nou voor hom uitstrek en hoop om eendag soos sy groot held, Pieter Steph du Toit ʼn Springbok en professionele rugbyspeler te word.
