News

Taxibestuurder op borg ná 14 skoolkinders se dood

Bedroefde families woedend ná taxibestuurder op borgtog vrygelaat word vir 14 kinders se dood.

VANDERBIJLPARK – Die taxibestuurder wat daarvan beskuldig word dat hy ’n gru-ongeluk veroorsaak het waarin 14 skoolkinders dood is, is gister op R3 000 borgtog vrygelaat nadat hy sowat agt maande agter tralies deurgebring het.

Ayanda Dludla (23) het in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op 14 aanklagte van moord, drie aanklagte van poging tot moord, bestuur sonder ’n geldige permit en die bestuur van ’n onpadwaardige voertuig.

Dludla het gedurende die grootste deel van die verrigtinge sy kop onderstebo na die vloer gestaar, maar het uiteindelik opgekyk nadat die landdros Phumeza Ngindo aankondig het dat hy op borgtog vrygelaat gaan word.

Ngindo het sy vrylating gelas en streng borgtogvoorwaardes opgelê. Dludla mag vir die duur van die saak nie bestuur nie, moet in sy ma se huis woon en moet weekliks by die Vanderbijlpark-polisiekantoor aanmeld.

Die landdros het in ag geneem dat Dludla beperkte finansiële middele het en bereid was om sy universiteitspaargeld vir borgtog te gebruik.

“Hierdie hof het ook die erns van die misdrywe waarvan die aansoeker aangekla word, in ag geneem. Die aansoeker is vir ’n tydperk van agt maande in aanhouding. Emosies is nie meer so hoog soos ná die ongeluk nie,” het Ngindo gesê.

Sy het bygevoeg dat sowel die bedroefde families as Dludla berading nodig het om die tragedie te verwerk.

“Die aansoeker is getraumatiseer. Hy was lief vir daardie kinders, en hulle was ook lief vir hom,” het sy gesê.

Die besluit het onmiddellike woede en hartseer onder die slagoffers se families ontlok. Hulle het die hof se galery vol gesit.

Moses Baloyi, wie se kind in die ongeluk dood is, het gesê geregtigheid het gefaal en die landdros van partydigheid beskuldig.

“Ek voel eerlikwaar die landdros gee nie om vir ons kinders nie. Uit die manier waarop die aanklagte hanteer is, kon ek van die begin af hoor die landdros ondersteun die aansoeker,” het hy gesê.

Innocentia Vinger, wat haar sesjarige kind verloor het, het gesê die uitspraak beteken ouers sal Dludla nou elke dag vry in die gemeenskap moet sien terwyl hulle steeds oor hul kinders treur.

Vinger het haar diepe hartseer uitgespreek oor die feit dat die tragedie daartoe gelei het dat families daagliks huil en voel asof hul kinders verniet gesterf het.

“Om teen 120 km/h te bestuur is beslis ’n ongeluk, maar om teen 180 km/h in ’n 120-sone te bestuur, is nie ’n ongeluk nie.”

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die Staat borgtog teengestaan het op grond van getuienis in die dossier wat die moordklagtes ondersteun.

“Die landdros het egter bevind dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat word,” het sy gesê.

Die ondersoek is afgehandel en die Staat berei voor om sy getuienis tydens die verhoor, wat van 9 tot 17 November sal duur, voor te lê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button